Die Boeremark en Pampoenfees

Hier in ons geweste is daar Saterdagoggende ‘n Boeremark waar die publiek vars plaasprodukte direk by die produsente kan koop. Enige iets van vars plaasbrood, vleis, groente, tuisgebak, plante en blomme is saam met baie ander artikels beskikbaar. Dit is een van die min plekke waar produsent en verbruiker mekaar van oog tot oog kan sien. Anders as in ‘n supermark, is hier persoonlike interaksie tussen die begin- en eindpunte van landbouproduksie. Soos dit hoort, want tè veel kinders dink mos melk word in die supermark se fabriek vervaardig, en vleis kom van ‘n ander fabriek af.

Van voor eerste lig word die stalletjies ingerig en as kopers die beste produkte wil koop, moet hulle nie baie later daar opdaag nie. Dit is ‘n plek waar dinge vroeg lewe en die Saterdagoggendlaatslapers weet nie wat hulle mis nie. Al het jy nie ‘n behoefte aan vars groente, vleis of gebak nie, is dit ‘n rustige plek waar haastige mense vinnig leer dat tyd nie alles in die wêreld is nie. Neem net ‘n opslaanstoel saam, en gaan maak jou tuis in ‘n skadukolletjie van een van die Pioniersmuseum se groot bome. Voor jou oë speel ‘n ongeoefende tafereël himself af wat selfs vir amateur waarnemers van menslike gedrag ‘n waardevolle les kan wees. Ek was baie onlangs weer daar en my besoek het saamgeval met ‘n Pampoenkompetisie. Deelnemers kompeteer om die swaarste pampoen te kweek. Vanjaar se wenner het die skaal op amper 225 kg getrek. Die pampoene was die trekpleister, maar die mense het die oggend gemaak.

Ek het nog altyd gedink mense skuif hul inhibisies so effe opsy as hulle jaarliks tien dae Margate toe gaan. Dis mos die tyd dat Pappie besluit dat ‘n neonkleurige Speedo reg sal laat geskied aan sy ongedefinieerde “Six Pack”. En daar by die Beach Store gaan koop Mammie vir haar ‘n nommertjie met polkadots wat enige dag goeie kompetisie sal wees vir ‘n Hustler Shop se vroueklereafdeling. En dan pronk hulle vir tien dae aanmekaar.  Om die waarheid te sê – die liefde blom van voor af.

By die Pampoenfees het ‘n opkomende sanger eers met drie stywe linkervingers (sy regterhand het die mikrofoon vasgehou) nommers soos “My Hart is soos ‘n JouJou” die voorbrandwerk gedoen voordat die swaargewigte hul verskyning gemaak het. DJ Ossewa het daarin geslaag om mense op ‘n ander manier nader (en uit-) te trek. Toe hulle eers wegtrek met die “Vrystaat Mambo” (“…..dis die lewe die, hulle noem dit landbou, die Vrystaat Mambo….”) dan ervaar jy sommer die beroering van lekkerkry onder die toeskouers. Toe hulle later oorslaan na Beeskraal se weergawe van “The Green Green Grass” (“Daar is net een garage, ‘n bottelstoor, ‘n sinkdakhuis en ‘n poskantoor……..”) dan word ander kragte losgemaak. Tot nou toe het ek gedink Toti en Margate is die enigste plekke waar vakansieinhibisies dik lê op die hoogwatermerk nadat die karre se neuse weer huistoe gedruk was. Maar nee – daar in die Pioniersmuseum se stof lê daar na dese self ‘n goeie laag goedgebruikte inhibisies.

Kom ons begin met die omie met die blou blokkieshemp, Sterling kortbroek, lang grys kouse en atletiekskoene. Eers het hy heel stigtelik op sy agterstewe op die rand van ‘n watervoor gesit. Maar toe ek weer sien, staan hy regop by een van die sleepwaens. As die Ossewaens die refrein van die Mambo vir die tweede keer vat, dan kom daardie omie se hande onwillekeurig op soos een van daardie “Doo Dah” meisies van weleer en politoer hy by wyse van spreke, die denkbeeldige glasruit voor hom in sulke gesinkroniseerde sirkelbewegings. Alles op ritme van die Ossewaens. En as die Ossewaens se voorsanger, Piet Pompies, vertel dat ‘n “longdrop” in Afrikaans ‘n Plonsput is, dan skud daardie omie van die lag. Maar hy is nie alleen nie, want ons almal lag saam.

Toe Piet boonop sommer so tussen die toeskouers instap en die een vrou na die ander nader trek vir ‘n vinnige dansie, kom ek agter dat daar is baie minder skugteres as wat ek sou dink. Duidelik geniet ‘n paar van die dames die geleentheid om hul passies ten toon te stel. Toe hy boonop een vrou bedank vir die sagte manier waarop sy aan hom gevat het, glimlag almal breed. Veral toe hy haar vertel sy het op plekke aan hom geraak waar hy nie eers geweet het hy plekke het nie. Toe span hy die kroon oor daardie tannie se week.

‘n Ander omie met sy Blou Bul T Hemp en rugbybroekie trek sommer vir Mamma nader en kaalvoet begin hulle skoffel dat die stof voor die verhoog kniehoogte opslaan. Jy kan sien diè twee het dit al vantevore gedoen, want Pappa se onverwagte stappies kan maar net nie vir Mamma onkant vang nie – sy voel daardie subtiele koersverandering met ‘n agtste sintuig aan. Haar breë glimlag en sy bril wat al hoe laer op sy neus afskuif, vertel sommer vanself dat beide van hulle die onverwagte Saterdagoggend Seties gate uit geniet. En die toeskouers ook.

‘n Bebaarde man in ‘n kortmou kakiehemp met ‘n verbleikte groen John Deere pet op sy kop, vang my oog. Hy dra sandale saam met ‘n swart sweetpakbroek met twee wit strepe langs die bene af. Saam met sy drie dogters met hul blink oë, sit hy langbeen op die grond tussen ‘n swetterjoel ander kinders vlak voor die verhoog. Vir ‘n wyle het hy vergeet van die droogte en die witgebrande mielies, en die verband, en grondeise want jy kan aan die ritmiese wip van sy voet sien hy is by. Die Ossewaens se musiek praat vir vandag ‘n ander taal met hom.

Skuins voor my is ‘n aanvallige jong moedertjie in ‘n nousluitende denimbroek en ‘n paar sandkleurige Crocs. Haar spruit is op die wegloopstadium en terwyl sy ma se aandag vasgegom is op die manewales van die vyf musikante op die verhoog, vat hy die pad. Ek sou half en half verwag dat sy hom elke keer met toenemende irritasie sal gaan voorkeer, maar selfs die naloop word in pas met die musiek gedoen. Kleinman is gewis geseën dat tugtiging nie voorrang geniet op hierdie heerlike saamweesgeleentheid nie. Al die mense wat Moedertjie (soos ek) uit die hoeke van hul oë dophou, is beïndruk met haar gemoedelike manier van opvoeding. Ek dink die Ossewaens kan met reg aanspraak maak op ‘n klein insetseltjie tot haar gemaklike gemoedstemming. Gelukkige kind.

Toe die orkes later “Lekker Ding” lewe gee, toe is daar sommer een van die aanvallige jong meisies wat vroeer aan die Volkspeledemonstrasie deelgeneem het, wat wys dat daar in haar jong liggaam ander reaksies opgesluit sit as diè van tradisionele seun/meisie speletjies. Die tradisionele drag was nie vol genoeg om haar vermoë om met die klap van die vingers soomloos by ‘n moderne dans in te gly nie. Met ‘n ewe groot glimlag het sy haar vermoë om by die tradisionele en die byderwetse in te skakel, ten toon gestel.

Ek merk die slanke vrou in die lemmetjiegroen bloese en denim kniebroek op. Haar gesig wys die tekens van moeilike jare maar haar oë word weggesteek deur ‘n omvousonbril. Sy rook die een sigaret na die ander en ek verwag dat haar man enige oomblik by haar sal aansluit. So tussen al die mense is sy die enigste een wat lyk of sy dit nie geniet nie. Elke nou en dan, dan trek daardie opmerklike bloese my aandag, en dan staan sy die spulletjie so op een been, heupe effens geknak, sigaret in die hand en bekyk. Sonder ‘n glimlag. Niemand het haar kom haal nie. Ek dink nie dis lekker om alleen tussen vrolike mense te wees nie.

Na dese het ek my Tese oor die Verlies van Inhibisie so ietwat aangepas. Benewens ‘n seevakansie, kan kloppende ritme ook vreemde uitwerkings op menslike gedrag hê.