Werkers kry boer se lyk met tou om sy nek
Jan 20 2007
 

Fochville. – ’n Boer is vermoor en ’n ander lig beseer in twee afsonderlike plaasaanvalle in Noordwes eergisteraand.

 

Mnr. Piet Barnard Venter (68) se lyk is gisteroggend deur werkers naby sy plaas se hek tussen Parys en Fochville gekry. Hy is vermoedelik verwurg. Daar was ’n tou om sy nek, maar geen sigbare beserings aan sy lyk nie, het supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, gesê.

 

Venter se wit Toyota-viertrekbakkie is vroeër verlate langs die pad sowat 4 km van sy plaas deur ’n buurman opgemerk. Die buurman het die polisie ontbied.

 

Volgens Jacobs was die polisie nog na die plaas onderweg toe ’n berig hulle bereik het dat werkers op Venter se lyk afgekom het. Die drie werkers het Venter die vorige aand tussen 20:00 en 22:00 laas lewend gesien toe hy hulle in Parys, waar hulle bly, gaan aflaai het.

 

Bakkiespore op die moordtoneel wys dat Venter vermoedelik oorval is nadat hy die plaashek oopgesluit, ingery, stilgehou en uitgeklim het om die hek weer te sluit. Daar is geen tekens van ’n inbraak by sy huis, waar hy alleen gebly het, nie.

 

In die tweede voorval het mnr. Izak Visser (62) van die plaas Twyfelspoort naby Groot-Marico verbete geveg om die oorhand oor sy twee aanvallers te kry. In die proses het hy kneuswonde opgedoen en skrape waar die “doringbome my bygekom het”.

 

Visser sê hy het vroegaand uitgegaan om ondersoek in te stel na ’n kragonderbreking toe ’n vrou met ’n rewolwer voor hom in die paadjie gespring en “hands up” geskree het. Hy het die rewolwer geëien as sy eie wat op 12 Januarie tydens ’n inbraak by sy huis gesteel is.

 

’n Tweede aanvaller, ’n jong man, het op Visser se rug gespring terwyl hy die rewolwer by die vrou probeer afvat het.

 

“Sy wou nie los nie, toe byt ek haar. Nadat sy dit laat gaan het, het ek haar daarmee teen die kop geslaan,” het Visser gesê.

 

Die twee aanvallers het gevlug met die .22-geweer wat Visser by hom gehad het.

 

Insp. Erica Roos, polisiewoordvoerder, het gesê hy het ’n skoot met die rewolwer geskiet, maar die patrone het uitgeval toe hy ’n tweede skoot wou skiet.

 

Albei verdagtes is kort ná die voorval vasgetrek, nadat die jong man se ouers hom polisiestasie toe geneem het. Hy het glo ’n bekentenis afgelê. Dit het tot die inhegtenisneming van die vrou in die vroeë oggendure gister gelei. Die .22 is later gisteroggend gekry waar dit in bosse versteek was, het Roos gesê.

 

’n Plaaslike boer het gesê die polisie se optrede was baie flink en professioneel. Dít is nadat ’n inwoner van Groot-Marico vroeër vandeesweek by Beeld gekla het oor die polisie se trae reaksie tydens inbrake. Dié klagtes word intussen ondersoek.