Vyf plaasaanvalle in 13 uur
Middelburg. – Die polisie in Mpumalanga is besig met ’n grootskeepse
soektog na verdagtes nadat vyf plaasaanvalle in minder as 13 uur in dié
provinsie uitgevoer is.
Twee verdagtes is al vasgetrek.
Dié aanvalle het almal in ’n 200 km-omtrek van Middelburg gebeur.
Die aanvalle was tussen eergisteraand omstreeks 18:00 en die laaste
gisteroggend om 06:30.
Dit is nog nie duidelik of die aanvalle met mekaar verband hou nie.
Die eenheid vir ernstige geweldmisdaad (EGM) in Middelburg en Witrivier
ondersoek die sake.
# Mnr. Karel Scheepers (59) en sy vrou, Cornelia (54), van die
Laersdrift-omgewing is omstreeks 21:00 op hul plaas aangeval toe hulle by die
huis gekom en twee rowers hulle vermoedelik in hul huis ingewag het.
Volgens insp. Werner Otto van die EGM het mnr. Scheepers ’n geraas in die
eetkamer gehoor toe hy – soos altyd – eers gaan kyk het of alles veilig is in
die huis.
Hy het ’n beweging gesien. en die eetkamerdeur se skuifslot gesluit.
Hy het gehoor hoe iemand in die hoofslaapkamer ’n vuurwapen oorhaal en uit die
huis gehardloop, sy vrou aan die arm gegryp en na ’n ou murasie gehardloop.
Drie skote is op hulle geskiet.
Dié aanvaller het gevlug en mnr. Scheepers het die polisie gebel, wat die ander
aanvaller in die eetkamer gearresteer het. ’n Vuurwapen word vermis.
Dié verdagte is ’n werknemer van ’n private wildbewaringsonderneming in
Hoedspruit. Hy het kamoefleerdrag gedra.
# In ’n ander aanval in Carolina is mnr. Koos Coetzee (76) om 22:00 deur drie
mans oorrompel toe hy sy plaashuis se deur vir sy hondjie oopgemaak het.
Coetzee is erg aangerand, sy hande en voete is met skoenveters vasgebind en hy
is sy slaapkamer gedwing, waar die rowers hom weer aangerand en sy kluissleutels
geëis het.
Hulle het met twee pistole en ’n submasjiengeweer weggekom.
# Mev. Norma Myburgh (45) en haar seun, Hugo (21), is eergister om 18:00 op
hulle plaas in Steelpoort aangeval.
Mnr. Myburgh is in die motorhuis ingewag, oorrompel en na die huis geneem waar
twee aanvallers ook vir mev. Myburgh oorrompel het.
Hulle het ’n selfoon, R12 000 en R80 000 se juwele gevat.
Daarna is die hulle in mev. Myburgh se Pajero gedwing, aangesê om na
Burgersfort te ry, waar mnr. Myburgh R1 500 by ’n kitsbank moes trek. Hy is
gedwing om na die swart woongebied te ry waar die aanvallers uit die voertuig
geklim en weggehardloop het.
# Mnr. Josua Homman (71) is gisteroggend om 06:30 deur vier mans aangeval wat
hom in ’n stoor op sy plaas in die Leslie-omgewing aangerand en van ’n
onbekende aantal vuurwapens en geld beroof het.
Een verdagte is in hegtenis geneem.
Hy sal Maandag in die landdroshof in Leslie verskyn.
# Daar was ook ’n plaasaanval in Sundra, maar die besonderhede was teen druktyd
nog nie beskikbaar nie.