Vermeende plaasaanvallers verskyn in hof ná moord op bejaarde boer
Feb 26 2007 09:35:10:283PM  - (SA)  

Linda de Beer

Potchefstroom. – Twee vermeende plaasaanvallers het gister hier in die hof verskyn weens die moord in Januarie op mnr. Piet Barnard Venter (68) op sy plaas tussen Fochville en Parys.

Mnre. Thabiso Johannes Mosia (21) en Seun Maqwane (28) is Donderdag by Tumahole buite Parys aangekeer. Venter se selfoon is teruggekry en die polisie het ook op ’n pistool beslag gelê, het supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, gesê.

Venter se lyk is vroeg op 19 Januarie met ’n skietwond onder die ken naby die hek na sy plaas gekry. Hy is vermoedelik ook verwurg.

Mosia en Maqwane bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 7 Maart.

·  Jeremia Mogari is Donderdag in die Ventersdorpse streekhof tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis weens poging tot moord, waarvan twee jaar opgeskort is. Hy is ook tot vier jaar gevonnis vir huisbraak en diefstal. Hy is dus effektiewelik 14 jaar tronk toe gestuur.

Mogari het mev. Alida Hartzer in Augustus verlede jaar op die plaas Roodepoort buite Ventersdorp erg met ’n stuk hout aangerand.

Net twee selfone en ’n bos huissleutels is aanvanklik uit die huis vermis. Haar dogter het in die vroeë oggendure op haar bebloede ma afgekom.

) Niemand is nog in hegtenis geneem weens die wrede moord Vrydagaand op mnr. Steve Rademeyer (78) van die plaas Weltevrede buite Schweizer-Reneke nie, het Jacobs gesê.

Rademeyr is voor sy 85-jarige vrou, Engela, met ’n graaf aangerand en verskeie kere met ’n onbekende voorwerp gesteek. Hy het aan sy wonde beswyk.