PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD
PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 28 JUNIE 2006
..........................................................................................................................................
VEILIGHEIDSOPLEIDING – GRYP DIE GELEENTHEID AAN
Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het lede van plaaslike gemeenskappe weereens aangemoedig om die geleentheid aan te gryp om die opleiding by te woon.
Mnr Joubert het gesę dat misdaad nie vanself gaan ophou nie. Kriminele pleeg nie misdaad omdat hulle ’n goue sterretjie daarvoor gaan kry nie. Misdadigers doen misdaad want dit betaal, dit word ’n manier om ’n bestaan te voer. Dit is ook maklik. Met die verswakte SAPD is dit gewoon die moeite werd om iemand anders se goed te vat en dan sommer ook die persoon dood te maak. Mense word vir selfone vermoor. Vrouens word daagliks verkrag. Selfs kinders is nie meer veilig nie. Plaasaanvalle en plaasmoorde het die nasionale sport geword.
Mnr Joubert het gesę dat die plekke waar misdaad daal, gemeenskappe verantwoordelikheid vir eie veiligheid gevat het. Dit is gemeenskappe wat siek en sat geword het vir onbeheerbare misdaad. Gemeenskappe wat opstaan en sę ‘Genoeg is wragtag genoeg”. Die kursus wat deur TLU SA Noord aangebied word, is oop vir lede maar ook nie-lede. Almal is welkom. As jy nou gereed is om vir jou eie veiligheid op te staan, dan is die kursus gewoon onontbeerlik.
Mnr Joubert het gesę groot sukses word met die groen lig patrollies bereik. Nie alleen op plase nie, maar ook nou in dorpe waar die stelsel toegepas word.
Mnr Joubert het gesę dat Sky News en Hollandse media verteenwoordig sal wees. Die blootstelling aan internasionale media is ’n wonderlike geleentheid vir deelnemers wat maksimaal gebruik moet word.
Die organiseerder van die kursus, Mev Petro Meiring het gevra “Indien u enige voornemende studente werf, word u vriendelik versoek om asselbief die name aan my deur te stuur - nie later as 14 Julie 2006 om 14:00 - aankope en finale reelings word volgens studentetal gedoen.” Sy kan gekontak word by 082 923 4650 of navrae kan by TLU SA Noord Streekkantoor gedoen word 015 297 3749.
Mnr Joubert het veral lede wat nuut by Steunkringe / Dorpswagte aangesluit het, aangemoedig om die noodsaaklik kursus by te woon.
.............................................
Mnr F Du Toit
Voorsitter: Kommunikasie