Vandag vrek jy, hoor boer
12 Dec 2006
 

GROBLERSHOOP. – Hy moes hoor: “Boer, vandag maak ek jou vrek.”
As die liewe Here nie by hom was nie, was hy dood.

 

Só sę mnr. Kerneels Nortjé (64) van ’n plaas by die buurt Opwag naby Groblershoop.

 

Vier jeugdiges, vermoedelik bendelede, het hom op een van sy landerye aangeval. Drie van hulle is intussen in hegtenis geneem.

 

Dié aanval van enkele dae gelede het die eerste keer bekend geword toe die Byna Bo-Landbou-unie, wat by die Transvaalse Landbou-unie geaffilieer is, gister in ’n verklaring gesę het met dié aanval is ’n boer ’n basiese mensereg, soos in die Grondwet vervat, ontneem. Dit is die tweede boer wat die afgelope maand in die grense van die !Kheis-munisipaliteit aangerand is.

 

Dié landbou-unie pak die skuld vir dié gebeure op die ANC-regering.

 

“Die voortdurende verbale aanvalle en ongegronde beskuldigings van regeringswoordvoerders oor boere en landbou in die algemeen, het tot gevolg dat boere stelselmatig geëtiketteer word as boos en die vertrappers van menseregte.”

 

Die verklaring lui me. Lulu Xingwana, minister van landbou en grondsake, se uitlating “waarin sy beweer het dat boere plaaswerkers verkrag en aanrand, is ’n sprekende voorbeeld hiervan”.

 

“Hierdie onverantwoordelike en laakbare uitsprake kan elemente in die samelewing opsweep tot haat wat tot vergelding teen onskuldige boere aanleiding kan gee, soos wat pas gebeur het.

 

“Ook die beheptheid van die regering om regstellende aksie in die polisie so deur te voer dat ’n verlies aan kundigheid veroorsaak dat misdaad en geweld ongestraf hoogty in die gebied vier.”

 

Nortjé sę hy is na mnr. Steven Beukes toe wat een van sy waterleiers is.

 

Nadat hulle klaar gepraat het, het hy omgedraai om na sy motorfiets toe te stap.

 

Die volgende oomblik was die vier jeugdiges skielik voor hom en is hy blatant aangeval. Die jeugdiges het moontlik iewers weggekruip.

 

Beukes het gepleit dat die jeugdiges Nortjé moet los omdat hy (Nortjé) niks aan hulle gedoen het nie.

 

Nortjé sę ’n vuishou het hom gemis.

 

Daar is geprobeer om hom met ’n sker te steek en hy is met ’n klip gegooi.

 

Die jeugdiges wou sy motorfiets afneem. ’n Stoeiery het ontstaan en die motorfiets het gevrek.

 

Tussendeur het Nortjé dit reggekry om sy seun, Tobie (32), te bel.

 

Nortjé het agteroor in die modder geval. Sy bril het afgeval, sy selfoon was nie meer in sy hand nie en sy horlosie is afgeruk.

 

Hy is met die skerp kant van ’n graaf agter sy linkerblad geslaan wat ’n lang sny veroorsaak het.

 

Hy het ook krapmerke gehad.

 

Die aanvallers het weggehardloop toe sy seun en ’n vriend opdaag.

 

Nortjé ly aan skok en sukkel om te eet of te slaap.

 

Hy sę dit was baie traumaties.