Sy pa doodgeskiet: ‘Hoe moet jy voel?’

Vier gewapende mans, wat glo almal militêre uniforms aangehad het, het ingebreek by ’n huis in Schurveberg, wes van Pretoria, mnr. Manie de Jager (59) doodgeskiet en twee selfone gesteel.

“Daar was geen motief om te roof nie. Dis moord, dit was niks anders as moord nie. Hulle het twee selfone gevat. En my pa se lewe,” het mnr. Kahn de Jager, De Jager sr. se seun, gister gesê.

Die rowers het omstreeks 02:00 gisteroggend diefwering by ’n venster van die huis op die kleinhoewe oopgebuig. Hulle is na De Jager sr. en sy vrou, Tjoekie (53), se slaapkamer waar hulle op die twee geskiet het.

Sy pa het ’n groot kussing gegryp en probeer om die vier gemaskerde mans van sy ma af weg te hou, het De Jager jr. gesê.

Hulle is tot in die televisiekamer, waar die mans De Jager sr. verskeie kere geskiet het. Hy is daar dood.

Mev. De Jager kon na die motorhuis vlug waar sy haar toegesluit het. Sy het omtrent vyf uur lank daar geskuil en toe ’n huiswerker omstreeks 07:00 opdaag, het sy hulp ontbied.

Volgens De Jager jr. het sy ma gesê die mans was in militêre uniforms. Die rowers het alles in die huis laat staan en selfs die De Jagers se bakkie en die kluis in die huis was onaangeraak.

“Hoe moet jy voel as jy pa koelbloedig vermoor word en die staat draai net sy rug op plaasmoorde? Daar word niks gedoen nie.

“Dis plaasmoord ná plaasmoord. Hierdie is net nog ’n statistiek,” het De Jager jr. gesê.

Die De Jager-egpaar het sowat twee maande gelede na die huis getrek en was besig om dit in ’n gastehuis te omskep. Hulle het vantevore in Groblersdal gewoon.

Die De Jagers was goeie vriende met mnr. Hennie van Vuuren en sy vrou, Celia, wat in Desember verlede jaar by hul huis in die Makopane (Potgietersrus) -omgewing vermoor is.

Me. Van Vuuren is in die tuin vermoor en haar man is verskeie kere geskiet. Niks is toe gesteel nie.