Skurke val gesin aan terwyl hulle by spog-oord
vakansie hou
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_1967640,00.html
Hazyview. – ’n Weeklange skoolvakansie by ’n spog-oord naby dié dorp het gister
vir die Eksteen-gesin in ’n nagmerrie ontaard toe hulle deur twee gewapende
mans aangeval is terwyl hulle langs die Sabierivier gestap het.
Die Eksteens boer naby Standerton en het ’n week gelede by die Krugerpark Lodge
aangekom. ’n Geskokte Mev. Ronel Eksteen (33) het gister aan Beeld vertel dat
sy, haar man, Luancko (32), en twee kinders, Elisma (8) en Christiaan (10),
langs die rivier gaan stap het.
“Ons het op rotse gestaan en na die water gekyk toe twee mans agter ons uit die
bos gekom het. Hulle het gevra of ons vis wou koop. Ons het nee gesê en die
volgende oomblik het albei messe te voorskyn gebring.”
Mnr. Eksteen het glo vir sy gesin geskree om weg te hardloop. Hulle was skaars
30 m van die naaste vakansiehutte toe die aanval plaasgevind het. Een van die
aanvallers het ’n klip na mnr. Eksteen geslinger. Hy is teen die kop getref en
het glo inmekaar gesak.
“Toe Luancko val, het die aanvallers agter my en die kinders aangehardloop. Ek
het aanhoudend gegil en die aanvallers met my skoene gegooi.”
Volgens mev. Eksteen was daar boukontrakteurs naby wat aan ’n hut gewerk het.
“Die man het van ’n stellasie afgespring en nader gestorm. Die arme man het
homself flenters geval in die proses om by ons uit te kom.”
Die rowers het glo oor die rivier gevlug en in die digte bosse op die
aangrensende plaas verdwyn. “Wat ons die meeste ontstel, is dat die
veiligheidswag gesien het wat gebeur maar ons nie kom help het nie. Hy het net
hulp oor sy draagbare radio ontbied.”
Mnr. Eksteen moes ses steke in die wond aan sy agterkop kry. “Die oord se
bestuur was ongelooflik hulpvaardig. Die polisie was ook baie gou op die toneel
en het die bosse gefynkam. Ons wou onmiddellik oppak en huis toe kom, maar die
dokter het gesê ons moet tot vandag wag.”
Mev. Eksteen sê hulle en hul ouers kom gereeld na dié oord, maar dit was die
eerste keer dat hulle só iets beleef het.