San-wagte sê boewe wie’s baas op plaas
Sep 12 2006 08:21:27:113PM  - (SA)  

Pieter Jordaan Beeld

Misdadigers in Suid-Afrika se landelike gebiede het ’n nuwe struikelblok – meesterspoorsnyers met pyl-en-boog gewapen.

Te oordeel aan die klaarblyklike sukses wat Sanda-sekuriteit behaal het sedert daar besluit is om San-mense van Platfontein naby Kimberley in die Noord-Kaap ter wille van landelike beveilig op te lei, kan dié projek sommer gou ’n goeie teenvoeter vir plaasaanvalle en veediefstal word.

“58% van die onderneming behoort aan die Boesman of San-gemeenskap self,” sê mnr. Quinton van der Lith (48), Sanda-streekbestuurder.

“Dis ook ’n manier om die San terug te sit in hul natuurlike omgewing – in die veld.”

Van der Lith bestuur die uitplasing van Sanda-wagte in Gauteng, Noordwes en Mpumalanga.

Van sy wagte beman sedert die begin van die jaar ook die misdaadgeteisterde Hekpoort- en Muldersdrift-omgewing aan die Wes-Rand.

“Die boere by wie hulle uitgeplaas is, wil hulle (die wagte) nie weer laat gaan nie,” het Van der Lith gesê en van verskeie boere vertel wie se probleem met indringers en diefstal “totaal” verdwyn het sedert die Sanda-wag daar spoorsny.

“Die Xun!- en die Khwe- is die twee stamme wat by Platfontein woon. Sanda is die enigste woord in die Xun! en Khwe se verskillende spreektale wat ooreenstem.

“Dit beteken ratel en beskryf ook hoe taai dié mense is. Wanneer hulle uitgeplaas word, meng hulle vanweë hul aard nie werklik met die plaaslike gemeenskap nie.

“Dis ook vir die plaaslike gemeenskap baie intimiderend omdat hulle bewus is van dié mense se talente,” het van der Lith gesê.

Volgens hom word Sanda-wagte op plase as “oë en ore” aangewend en word hul pyl-en-boë slegs vir selfverdediging gebruik. Hulle help glo ook die polisie met hul spoorsny-vaardighede.

“Hulle lees die veld soos ’n boek en doen die werk met passie en lojaliteit. Die geld word dan ook terug in hul eie gemeenskap geploeg.”

Sanda is begin toe lede van die Platfontein-gemeenskap na kol. Gert Schoombie, ’n voormalige militêre bevelvoerder, uitgereik het met die idee vir werkskepping deur San-mense op plase te versprei.

Nadat Schoombie R6,5 miljoen deur Absa se inkubasiefonds vir die projek kon verkry, kon dit realiseer.

Volgens mnr. Eric Dsebenda (40), een van die wagte wat op ’n plaas by Hekpoort werk en ook vantevore die Voortrekkermonument opgepas het, is hy baie trots op die “leiers wat Sanda begin het”.