Polisie’ val bejaarde boer en werkers aan
12/08/2006
http://www.dieburger.com/Stories/News/11.0.975922292.aspx
BUHRMANNSDRIF. – ’n Bejaarde boer is met kookwater oor die bene en geslagsdele
gebrand nadat hy en drie werkers deur die “polisie” by sy huis aangeval en met
pepersproei in die gesig gespuit is.
Die aanval op mnr. Daantjie van Zyl (77), sy huiswerker en twee plaaswerkers
kom ná twee weke waarin sy beesplaas byna heeltemal afgebrand en verskeie
wapens Woensdag uit die kluis in die huis gesteel is.
Van Zyl is vir skok en brandwonde in die Victoria-hospitaal behandel, maar is
gistermiddag ontslaan, het kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder, gesê.
Me. Santie Geldenhuys, voorsitter van die TLU se distrikslandbou-unie wat Van
Zyl ná die voorval besoek het, het gesê hy en die werkers is onkant betrap
omdat die aanvallers hulle as polisielede voorgedoen het. Volgens Augoustides
het een van die aanvallers ’n polisie-uniform aangehad en die ander ’n
weerkaatsbaadjie. ’n Derde verdagte het siviele klere aangehad.
Van Zyl het glo vir die huiswerker gesê om solank vir die “polisie” tee te maak
terwyl hy aantrek. Hy het vermoed hulle is daar oor Woensdag se inbraak terwyl
hy en sy vrou, wat gister in Mafikeng by die werk was, gehelp het om ’n brand
elders op die plaas te blus.
Die aanvallers het die huiswerker oorval, die twee werkers wat op die werf was
die huis ingeboender en hulle tot by Van Zyl se slaapkamer geneem. Hulle is met
pepersproei in die gesig gespuit.
Die werkers is volgens Geldenhuys gedwing om op die grond te lê, terwyl Van Zyl
op die bed moes lê. Sy hande is met die elektriese kabel van sy vrou se
haardroër vasgebind. Die kookwater waarmee die huiswerker wou tee maak, is oor
sy onderlyf uitgegooi.
Die aanvallers het glo geld gesoek. Volgens Geldenhuys het hulle Van Zyl
gedreig dat hulle sy geslagsdele met messe sal afsny en hom verder met ’n
strykyster brand as hy nie vir hulle sê waar geld is nie. Hy het aan hulle eise
voldoen.
Die rowers het met ’n groot bedrag geld in Van Zyl se bakkie gevlug. Niemand is
teen gistermiddag laat in hegtenis geneem nie.
Die Van Zyls was glo die afgelope twee weke die teiken van misdadigers. Byna
die hele plaas is afgebrand in veldbrande wat vermoedelik kwaadwillig gestig
is. Woensdag het die inbraak gevolg en gisteroggend die gewapende aanval. Van
Zyl het deur Geldenhuys laat weet hy wil nie met die media praat nie.
Boere in die omgewing meen volgens Geldenhuys misdaad op plase het toegeneem
sedert die plaaslike kommando moes sluit. Die polisie het glo geen struktuur
gereed om die kommando te vervang nie.