Plaasvrou erg geslaan; fone en sleutels gebuit
Aug 14 2006

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_1982078,00.html

Twee selfone en ’n bos sleutels.
Dít is al wat rowers die naweek gebuit het toe hulle ’n vrou in haar plaashuis buite Ventersdorp, Noordwes, erg met ’n stuk hout aangerand het.

Me. Alida Magrieta Hartzer (56) was laat Vrydagaand alleen op die plaas Roodepoort toe twee rowers by haar huis ingebreek en haar in haar slaap oorval en aangerand het.

Volgens supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, het Hartzer omstreeks 23:00 gaan slaap terwyl haar dogter uit was vir die aand. Haar man was op ’n sakereis. “Dit is nog onduidelik hoe die mans ingekom het. Hulle het Hartzer verskeie kere met die swaar stuk hout in die gesig en oor die kop geslaan. Al wat hulle gevat het, was twee selfone en ’n bos huissleutels.”

Hartzer se dogter het teen 02:00 tuis gekom en haar ma bebloed en erg beseer in die slaapkamer aangetref.

“Hartzer is onmiddellik na die Medi-Clinic in Potchefstroom geneem waar sy geopereer is. Sy het verskeie skedelfrakture weens die houe teen die kop opgedoen. Sy was te erg beseer om die polisie te vertel presies wat gebeur het,” het Jacobs gesê.

Die verdagtes is steeds op vrye voete en speurders van die eenheid teen ernstige geweldmisdade in Klerksdorp is op hul spoor. Indien hulle aangekeer word, sal hulle deur aanklagte van huisbraak, diefstal en poging tot moord in die gesig gestaar word.

Mnr. Daantjie van Zyl (77), boer van Buhrmansdrif naby Mafikeng, is verlede week tydens ’n aanval met kookwater gebrand en sy huishulp en werkers aangerand toe rowers hulle as polisielede voorgedoen het.

Tydens ’n vroeëre inbraak is verskeie wapens uit Van Zyl se kluis gesteel.