PERSVERKLARING

TLU - SA NOORD

PIETERSBURG STREEKKANTOOR

TEL: 015 – 297 3749 / FAKS: 015 – 297 2197 / E-POS: ntlu1@ctec.co.za

DATUM: 19 MEI 2006

..........................................................................................................................................

PLAASMOORDE RAS GEïNSPIREER

 

Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het gereageer op die berig in ‘n dagblad dat plaasaanvalle niks met rassisme te doen het nie.

 

WIE IS DIE AANVALLERS

Mnr Joubert het gesê sover bekend is geen wit persoon nog ooit geïmpliseer of inhegtenis geneem vir aandeel in enige plaasaanval of plaasmoord nie. Dit is waarskynlik waar dat algemene misdaad in Suid Afrika deur beide wit en swart mense gepleeg word. Waarskynlik in verhouding tot die populasie persentasie van elke groep. Dit is dus beduidend dat dit wil voorkom asof alle plaasaanvalle en plaasmoorde swart op wit geweld verteenwoordig. Dit is daarom moeilik om te aanvaar dat plaasaanvalle niks met rassisme te doen het nie. Wat eerder waar is, is dat die aanvalstekens gebruik word in misdaad wat op beide wit en swart mense gepleeg word.

 

WIE IS DIE SLAGOFFERS

Die feite op die grond weerspreek die bewering dat plaasmoorde en plaasaanvalle niks met rassisme te doen het nie. Die afstootlike marteling wat meeste plaasmoorde kenmerk, blyk nie ‘n algemene kenmerk van moorde op swart mense te wees nie.  Sinlose marteling en koelbloedige moord op ou mense wat hulself nie meer kan beskerm nie en niemand skade aandoen nie, blyk ‘n kenmerk van plaasmoorde te wees. Die feit dat die moordenaars meestal niks steel nie, is ‘n bewys dat die moorde doelbewus beplan is met ‘n verskuilde agenda.

 

SAPD STATISTIEKE

Mnr Joubert het gesê dat die SAPD statistieke onbetroubaar is en daarom is dit onmoontlik om met sekerheid te bepaal hoeveel moorde en aanvalle op plase voorkom. Selfs die statistieke wat deur die SAPD beskikbaar gestel word, is grootliks foutief en ontoereikend. Dit wil voorkom asof dit ‘n doelbewuste poging is om misdaadsyfers te verbloem en die werklike syfers vir die publiek te verberg.

 

MOTIEWE?

Mnr Joubert het gesê die algemene opvatting dat roof die motief is, is so ver van die waarheid verwyder dat dit aan belaglikheid grens.  Daar blyk ‘n verband te wees tussen die publikasie van grondeise en plaasaanvalle / plaasmoorde. Daar behoort ook gekyk te word na die voorkoms van opruiende toesprake deur onverantwoordelike politici en die verband daarmee met plaasmoorde.  Daar behoort gekyk te word na wie die meeste kan baat by die sinlose en gruwelike marteling van wit mense op plase. Die SAPD behoort daar vir die skuldiges te soek en nie allerhande belaglike motiewe op te tower nie. Die sogenaamde motief dat swart plaaswerkers kamtig wraak neem vir swak behandeling deur wit boere is deel van klimaatskepping om plaasmoorde moreel te regverdig. Van wanneer af is moord ‘n aanvaarbare manier om geskille te besleg? Veral in ‘n land waar onmenslik streng arbeidswetgewing geld, waar vakbonde hoogs aktief en goed opgelei is en waar die media vry is om enige wandaad te ontbloot?

 

Dit blyk dus dat plaasmoorde deur swart mense gepleeg word. Gruwelike marteling gevolg deur moord op boere is swart op wit geweld.  Suid Afrika moet dapper genoeg wees om die waarheid in die oë te kyk.  Daarsonder sal plaasaanvalle en moorde nie gestop word nie.

 

.............................................

Mnr F Du Toit - Voorsitter: Kommunikasie