OOS-KAAP:
Bejaarde egpaar wreed op hul plaas aangeval
02/01/2007
PORT ELIZABETH. – Berigte dat die nuwe jaar in die algemeen op ’n rustige noot verwelkom is, is versuur deur verskeie misdaad- en geweldsvoorvalle die afgelope naweek in die Oos-Kaap.
’n Bejaarde egpaar van Addo word in die St. Georges-hospitaal in Port Elizabeth behandel nadat hulle Saterdagmiddag omstreeks 14:00 op hul plaas aangeval is.
Volgens insp. Marianette Olivier, polisiewoordvoerder, het vyf onbekende mans na bewering by hul huis se agterdeur ingekom. Die verdagtes het die bejaardes vasgebind, geskop en geslaan.
Die 75-jarige man se arm en ribbe is gebreek, terwyl sy vrou (73) kneusmerke opgedoen het.
Olivier het gesê die egpaar, wat verkies dat hul name nie bekend gemaak word nie, het eers om 19:30 hulself bevry en die alarm geaktiveer.
Hulle is na die Kirkwood-hospitaal geneem en later na die St. Georges-hospitaal oorgeplaas.
’n Bakkie, televisiestel en drie vuurwapens – ’n .22-, ’n .38- en ’n haelgeweer is gesteel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.