Nuwelingboer op plaas vermoor
http://www.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_1934873,00.html
STEYNSRUS. – ’n Nuwelingboer wat
onlangs afgetree en sy plaas aan ’n buurman verkoop het, is vermoedelik met sy
eie vuurwapen vermoor in sy huis op die plaas waar hy steeds gebly het.
Mnr. Willem van Wyk (72) se lyk is gekry deur mnr. Koos Nigrini, wat die plaas
De Hoop onlangs by hom gekoop het.
Nigrini is baie ontsteld oor die wyse waarop die polisie die ondersoek ná die
moord hanteer het.
Hy sê hy kon dadelik sien dat Van Wyk vermoor is en die eerste polisiebeampte
op die toneel het met hom saamgestem.
Lede van die polisie se eenheid teen ernstige en geweldsmisdrywe is ontbied,
maar hulle is glo deur ’n kaptein wat daar aangekom het, weggestuur omdat hy
gemeen het Van Wyk is nie vermoor nie. Geen vingerafdrukke is op die
moordtoneel geneem nie.
Dinsdag is met ’n lykskouing vasgestel dat Van Wyk wel aan skietwonde dood is.
Nigrini het gereeld by Van Wyk op die plaas gekom en het hom, nadat hy die
plaas gekoop het, toestemming gegee om op die plaas aan te bly.
Die vermoede bestaan dat Van Wyk se moordenaars onder die indruk was dat hy die
geld wat hy vir die plaas gekry het, by hom gehad het. Van Wyk het na verneem
word die geld wat oor was, belê nadat hy sy lening by Landbank afgelos het.
Insp. Stehen Thakeng, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê daar was
aanvanklik onsekerheid oor die oorsaak van Van Wyk se dood omdat geen wonde
waargeneem kon word nie. Die stasiekommissaris het toe besluit dat ’n
geregtelike doodsondersoek voldoende sal wees totdat die lykskouing gehou is.
Met die lykskouing is vasgestel dat Van Wyk wel geskiet is met ’n vuurwapen van
klein kaliber – waarskynlik sy eie wat nou weg is. Die ondersoek sal nou deur
die eenheid teen ernstige en geweldsmisdrywe gedoen word.