Moordsaak sloer al 6 jaar oor rompslomp
Nelspruit. - Ses jaar nadat mnr. Dawie de Lange (40) koelbloedig in sy
woonstelletjie langs sy duikklopsaak in Quo Vadisstraat in dié stad doodgeskiet
is, is sy moordenaar steeds op vrye voete.
Sedert die moord op 26 Junie 2000 het die polisie-ondersoek nog niks opgelewer
nie, vermoedelik weens rompslomp by die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria.
Die De Lange-gesin sukkel steeds om hul seun en broer se dood te verwerk.
Dawie is op Sondag 26 Junie 2000 dood nadat hy drie keer op 'n kort afstand in
die kop geskiet is.
"Die polisiemanne wat destyds die saak ondersoek het, het na my mening
wesenlike flaters op die toneel begaan," het mnr. Sallie de Lange gesê.
"Ek was self in die polisie en kon sien dat hulle glad nie aan belangrike
aspekte en moontlike bewysstukke aandag gegee het nie."
Hy het verwys na bloed wat op die toneel gekry is, braaksel in die toilet en
sigaretstompies wat ook daar gevind is. Die enigste verdagte wat destyds
gearresteer is, is vrygelaat.
"Dawie se motor is ná die moord gesteel en hulle het later die sleutels in
dié verdagte se besit gekry. As hy dan nie van die moord aangekla kon word nie,
hoekom dan nie minstens van die besit van gesteelde eiendom nie?"
Die saak het ná langer as vyf jaar se gesloer op kapt. Ockie Brits,
bevelvoerder van die eenheid teen ernstige en geweldmisdaad (EGM) in Nelspruit,
se tafel beland.
"Ek het die dossier deurgegaan en besef dat daar baie los drade is. Een
daarvan was dat die bloed wat op die toneel gekry is nooit ontleed is om te
verseker dat dit wel die oorledene s'n was en nie dalk die verdagte s'n
nie," het Brits gesê.
Hy het bevestig dat sy ondersoek deur 'n gesloer by die forensiese laboratorium
gekortwiek word. Volgens Brits het hy reeds op 4 Maart verlede jaar
bloedmonsters van Dawie se ouers na die laboratorium gestuur om só deur DNS te
bepaal of dit wel sy bloed was.
"Ek het die afgelope jaar persoonlik minstens vier of vyf keer na die laboratorium
in Pretoria gery om antwoorde te gaan soek."
Intussen het Brits die naweek bevestig dat hy Vrydag 'n oproep van die
laboratorium gekry het met 'n versoek dat hy dringend na Pretoria moet gaan om
die saak te gaan bespreek.
"Hulle sê die DNS-toetse is gedoen, maar dat die uitslae nooit na my
aangestuur is nie weens 'n kommunikasiegaping."
Kapt. Francois Bekker, woordvoerder vir die polisie se forensiese laboratorium,
het bevestig dat die bloedmonsters wel ontleed is en dat slegs die DNS van die
slagoffer gevind is. 'n Beampte by die laboratorium het egter die uitslae verlê
en dit nooit aan die ondersoekbeampte gestuur nie.