Moordenaar gooi kind op vrou se lyk
Leslie. – “Moet my asseblief nie skiet nie. Vat maar my selfoon!” het ’n
tienjarige kind gepleit toe ’n aanvaller ’n bejaarde familielid die naweek op
’n plaas buite Leslie voor haar doodgeskiet het.
Die polisie het die naweek ’n verdagte vasgetrek in verband met die moord op
me. Sylvia Barkhuizen (72). Sy is Vrydagaand ten aanskoue van ’n minderjarige
familielid koelbloedig op haar plaas Kruisement buite Leslie doodgeskiet.
Barkhuizen is vermoedelik met haar seun se eie vuurwapen, wat vroeër die dag
uit sy huis gesteel is, vermoor.
“Dit is bitter, bitter swaar,” het mnr. André Barkhuizen, wat saam met sy ma op
die plaas boer, gister gesê.
Volgens hom het sy ma Vrydagmiddag van die plaaswerkers dorp toe geneem om
inkopies te gaan doen, maar is kort daarna terug plaas toe. Oomblikke nadat sy
en die kind, wat sedert Woensdag op die plaas kuier, uit die bakkie geklim het,
is hulle deur ’n man aangeval.
Hy het Barkhuizen glo tot agter die bakkie gesleep en haar twee keer geskiet.
Sy is in die kop en maag getref en het sekondes daarna gesterf.
Die moordenaar het glo die verskrikte kind gegryp en bo-op Barkhuizen se lyk
gegooi.
“Die moordenaar het haar lyk deurgesoek en toe eenvoudig weggestap,” vertel
Barkhuizen.
Die verdagte het glo in ’n stadium gesien hoe die meisie op haar selfoon bel –
sy het haar pa in Brits gebel.
“Ek het gehoor hoe sy oor die foon gil dat me. Barkhuizen geskiet is. Toe is
alles stil,” het die meisie se pa gesê.
Sy naam word verswyg om die kind te beskerm.
“Moet my asseblief nie skiet nie. Vat maar my selfoon!” het die kind glo
gesmeek toe die verdagte op haar afstorm.
Die verdagte het die selfoon gegryp en gevlug.
Haar pa het mnr. Barkhuizen gebel waar hy in Durban met vakansie was.
Barkhuizen het op sy beurt sy ma se selfoon gebel.
Toe die kind die selfoon hoor lui, moes sy glo die lyk deels oplig om daarby
uit te kom.
“Ek het vir haar gesê om een van die voertuie se sleutels te soek. Sy het die
bakkie s’n gekry. Ek het vir haar gesê om haarself daarin toe te sluit en vir
niemand oop te maak nie.”
Twee bure van die Barkhuizens wat by die moordtoneel opgedaag het, het die
bloedbesmeerde meisie gekry waar sy steeds in die bakkie weggekruip het.