Misdadiger was byna reservis

Een van Gauteng se mees gesoekte misdadigers was tot kort voor sy inhegtenisneming verlede Sondag in die proses om as 'n reservis by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te sluit.

Volgens die Wes-Randse eenheid teen georganiseerde misdaad word dié verdagte, Samuel Maghoema, en sy sindikaat met tot twintig moorde en 'n onbekende aantal huisbrake en gewapende rooftogte in Muldersdrift en Honeydew in die noordweste van Johannesburg verbind.

Maghoema (25) is verlede Sondag in Diepsloot in hegtenis geneem nadat 'n ondersoekspan van mnr. Gary Jacobs, 'n private speurder van Assured Security Solutions in Roodepoort, die afgelope elf maande op sy spoor was. "Hy het 'n aansoekvorm in sy besit gehad wat hy reeds ingevul het om as 'n reservis by
die Erasmia-polisiekantoor naby Venturion aan te sluit," het Jacobs aan Rapport gesê.

Volgens Jacobs, 'n oud-moord-en-roof-speurder, wou Maghoema vermoedelik op dié wyse toegang tot die polisie se rekenaarstelsel kry om vertroulike inligting te bekom. "Dit sou hom waarskynlik ook gehelp het om wapens en koeëlvastebaadjies te kry," het Jacobs gesê.

Maghoema is die afgelope week in 'n uitkenningsparade uitgewys as een van 'n groep aanvallers wat in September verlede jaar 'n onthaalplek in Muldersdrift beroof het. Die eienaars, hul twee kinders en die personeellede is ná 'n troue vasgebind en van duisende rande beroof.

Eienaars van hotelle en lodges aan die Wes-Rand het Jacobs verlede jaar gehuur om gewapende rooftogte by hul eiendomme te ondersoek. Dié private speurder het sedertdien afgekom op 'n ingewikkelde netwerk van sindikate wat al sedert 2004 vanuit Diepsloot en Zandspruit 'n skrikbewind aan die Wes-Rand voer.

Jacobs, in samewerking met die Wes-Randse eenheid teen georganiseerde misdaad en die Muldersdrift-speurtak, het Oupa Mhalele, Thabo Nzimande en ene "Junior" die laaste weke in hegtenis geneem. Selfone, beursies, bankkaarte, CD-spelers, sakke, rekenaars en ander eiendom is teruggevind.

"Van die sindikate het bande met Nigeriërs wat internetkafees in Hillbrow besit. Hulle bel die Nigeriërs ná 'n rooftog en dié kom koop dan geroofde rekenaars in Diepsloot. Een van die bendelede word vir die moord op 'n polisieman in 2004 gesoek," het Jacobs gesê.

Volgens supt. Anria Joubert van die Wes-Randse eenheid teen georganiseerde misdaad is daar vier bendes in Diepsloot wat verbintenisse met mekaar het. "Ons beskou hulle as sindikate. Hulle is al baie lank bedrywig."

Rapport het ook verneem daar word ondersoek ingestel na die moontlikheid dat polisielede van dié sindikaatlede beskerm.

Mense wat die afgelope jaar in Muldersdrift, Honeydew, Erasmia, Brits, Woodmead, Fourways en Lanseria beroof is, word versoek om te help deur die verdagtes en hul gesteelde eiendom te kom uitken. Belangstellendes kan Jacobs 082 4469 351 of Joubert by 011 760 4915 bel.