Misdaad op grensplase groot, sê boer
Jan 20 2007

 

CLOCOLAN. – Die storm wat pres. Thabo Mbeki se misdaaduitlatings onder landsburgers ontketen het, strook met die radelose woede van grensboere hier.

 

“Die president het nie ’n idee wat op die grens aangaan nie. Dit is ’n chaos,” sê mnr. Lourens Eksteen, wat aan die grens met Lesotho met saailinge en beeste boer.

 

Een van die Eksteen-familie se plase, Lanark, is naby die Pekabrug-grenspos op die Lesotho-grens en sowat 18 km buite die dorp.

 

Eksteen sê die familie het sedert verlede jaar R130 000 se skade weens oorgrensmisdaad gely. Verlede jaar het R80 000 se skade die familie getref, terwyl skade van R50 000 die afgelope twee weke aangerig is.

 

Daar is nou ’n sterk polisie-teenwoordigheid op die plaas nadat op 11 Januarie onder meer by ’n skuur ingebreek en onderdele van trekkers gesteel is deur die bakwerk te buig of oop te breek. Toegang tot die skuur is verkry deur sinkpanele aan die kant weg te skeur.

 

“Dit het drie dae geneem om die trekkers te laat regmaak, wat beteken dat van die trekkers die besigste dae in die seisoen moes stilstaan,” sê Eksteen.

 

Hy het die spore tot by ’n nedersetting in Lesotho gevolg.

 

Hy het by dieselfde nedersetting uitgekom toe hy spore gevolg het wat sowat twee weke gelede agtergebly het toe twee beeste gesteel is.

 

In ’n voorval verlede jaar is R65 000 skade aangerig toe die spilpuntstruktuur van ’n besproeiingsnetwerk afgesaag is.

 

Toegang tot die plaas word dikwels verkry deur hekke af te saag en te verwyder. Inbrake, veediefstal en vandalisme is misdrywe wat boere hier die ergste tref.

 

Eksteen sê hoewel die polisie se reaksie elke keer vinnig was en daar nou ’n sterk polisie-teenwoordigheid op die plaas is, is hy en sy familie steeds net nog een van die statistieke van oorgrensmisdaad.