Martel-moord op plot
Swartruggens. – Hulle het hom eers met kookwater gebrand en sy voorkop
oopgesny. Toe verwurg hulle hom met ’n skoenveter.
“Dit voel nog só onwerklik. Ek sal nooit weer kan teruggaan na ons huis toe
nie.”
Só het ’n verslae mev. Daleen Pieters (33) gister gesê nadat haar man, Frans
(44), eergisteraand wreed in hul huis op ’n kleinhoewe aan die rand van dié
dorp vermoor is, terwyl sy en haar kinders, Gideon (10) en Anuscka (3),
vasgebind moes toekyk.
Mnr. Pieters, ’n mynwerker, het ’n kunsbeen gehad.
“Hulle het om 21:15 die voordeur oopgeskop terwyl ek televisie gekyk het. My
man en kinders het toe al geslaap. Hulle het my dadelik met die mes aangeval.”
Die aanvallers het mev. Pieters se been net bo haar enkel op twee plekke tot op
die been oopgesny. Hulle het toe haar man en kinders gaan haal en almal in die
televisiekamer vasgebind.
“Hulle het my seun gebrand met ’n plastieksak wat hulle gesmelt het en op hom
laat drup het. En sy neus is stukkend geslaan en sy oog is blou. Hulle het my
dogtertjie net een klap gegee.”
Pieters sê een van die mans het ’n 9 mm-pistool in haar mond gedruk en hulle
almal geblinddoek en hul monde toegemaak.
“Hulle het my man eers gemartel en toe doodgemaak. Ek weet nie of hulle hom ook
met ’n mes gesteek het nie.”
Dié marteling het van net ná 21:00 tot ongeveer 01:00 die oggend geduur. Die
drie aanvallers is toe eers weg nadat hulle die huis geplunder het.
Pieters het toe daarin geslaag om haarself en haar kinders te bevry en na hul
bure gehardloop, wat die polisie ontbied het.
Sy en haar kinders is in die plaaslike hospitaal in die dorp behandel. Hulle
bly nou eers by haar skoonsuster op ’n plaas in die omgewing.
“Ek is baie seer en vol kneusplekke. My dogtertjie verstaan nog nie wat aangaan
nie. Ek sal my seuntjie by ’n sielkundige moet kry,” sê Pieters.
Haar ander 12-jarige seun was nie tydens die voorval tuis nie.
Kapt. Elsabé Augoustides, poliewoordvoerder, sê die aanvallers het net ’n
televisiestel en ’n DVD-speler ter waarde van R2 800 gesteel.
Enkele oomblikke later het drie mans mnr. Johan Labuschagne, wat sowat 1 km van
die Pieterse se kleinhoewe af bly, se voordeur probeer oopbreek.
“Labuschagne het toe wakker geword. Hy het sy buurman gebel wat toe die polisie
gebel het,” sê Augoustides.
Die polisie het kort daarna by die toneel opgedaag en ’n 19-jarige verdagte in
hegtenis geneem. Pieters het die verdagte glo reeds gisteroggend uitgeken as
een van die drie wat hulle aangeval het.
Volgens Augoustides ondersoek hulle nog die moontlikheid dat die twee voorvalle
met mekaar verband hou.
Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die Swartruggens-landdroshof.
Erkenning Media 24