Man in hof ná boer (77) van Ladismith oorval is
15/01/2007
 

LADISMITH. – Een van die mans wat na bewering ’n 77-jarige boer van dié omgewing Vrydag beroof het, verskyn vandag hier in die landdroshof.

 

Volgens mnr. Ntobeko Mangqwengqwe, ’n polisiewoordvoerder, het twee gewapende mans die boer omstreeks 11:00 by sy huis oorval. Hulle was met ’n handvuurwapen en ’n mes gewapen.

 

“Hulle het die man met die wapens gedreig en hom beveel om die kluis in sy huis oop te sluit,” het Mangqwengqwe gesê.

 

Nadat hulle die geld in die kluis gevat het, het hulle die man se hande vasgebind en hom aangesê om op die vloer te lê.

 

Die rowers het daarna met ’n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan en het die boer ongedeerd agtergelaat.

 

Hy kon daarin slaag om sy hande los te wikkel en het die polisie gebel.

 

“Een van die verdagtes (39) is Sondagoggend omstreeks 03:00 naby Laingsburg in hegtenis geneem ná ’n omvangryke soektog en deeglike ondersoek deur die polisie,” het Mangqwengqwe gesê.

 

Van die geld is in sy besit gevind.

 

Die polisie is steeds op soek na die ander verdagte, maar is glo positief dat hulle hom binnekort sal vastrek.

 

“Ons wil om veiligheidsredes, en omdat dit die ondersoek sal belemmer, nie in hierdie stadium die slagoffer se naam bekend maak nie aangesien die ander verdagte nog op vrye voete is,” het Mangqwengqwe gesê.

 

Die polisie van Ladismith het hul dank uitgespreek teenoor lede van die publiek wat met inligting na vore gekom het wat gehelp het met die ondersoek.