Kommer heers oor veiligheid

DIE sluiting van nóg 63 kommando-eenhede in Suid-Afrika vanjaar – terwyl die polisie se sektorpolisiëring nié die mas opkom nie, is strydig met wat pres. Thabo Mbeki aan landsburgers belowe het.

Só het mnr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus (VF+) vandeesweek gesê ná toenemende kommer oor veiligheid in plattelandse gebiede. Dit is die meeste eenhede wat in een jaar moet sluit sedert daar twee jaar gelede begin is met die uitfasering van die kommandostelsel.

Mbeki het destyds gesê die kommando’s sal nie ten koste van gemeenskapsveiligheid sluit nie. Sektorpolisiëring sou hul rol oorneem.

In die Vrystaat moet tien kommando’s vanjaar sluit en in Noord-Kaap ook tien.

’n Veiligheidskrisis bedreig volgens Vrystaat Landbou (VL) die Vrystaatse landelike gebiede omdat sektorpolisiëring glo nog in geen van dié gebiede in werking getree het nie.

’n “Vakuum” in misdaadbekamping in dié gebiede word voorspel wanneer nóg kommando’s ná vanjaar gesluit gaan wees.

In die boekjaar 2004-’05 is 17 gesluit en in 2005-’06 54 eenhede. “Ná vanjaar sal 134 van die totale 183 kommando-eenhede gesluit wees,” het Groenewald gesê.

Dié party gaan ’n brief aan pres. Thabo Mbeki skryf om hom te versoek om die sluiting van kommando’s te staak.

Die Vrystaatse kommando’s Fouriesburg, Jacobsdal, Ladybrand, Reitz, Theunissen, Zastron, Virginia, Hoopstad, Kroonstad en Parys moet in 2006-’07 sluit, asook die Noord-Kaapse kommando’s Calvinia, Springbok, Hay, Herbert, Hopetown, Kuruman, Middel-Karoo, Suidwes-Karoo, Victoria-Wes en Prieska.

Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van VL se wet-en-orde-komitee, sê die kommando’s, wat deur die staat gefinansier word, sluit om deur sektorpolisiëring vervang te word.

’n Krisis kan ontstaan omdat sektorpolisiëring deur die polisie “tot vandag toe nog in geen landelike gebiede in die Vrystaat in werking is nie”, sê hy.

“Ons kan statisties bewys dat meer misdaad op plase voorkom, veral waar kommando’s gesluit het. Die kommando’s was daar vir noodsituasies en rampe, maar het ook doeltreffend saam met die polisie in misdaadbekamping gewerk.”

Breytenbach sê groot verwarring heers ook oor die sluitingsdatums. “Die voorgeskrewe datum is wanneer die kommando sy deur finaal moet sluit, maar sy operasies moet geruime tyd voor dié datum al gestaak word.”

Supt. Annelie Wrensch, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die Vrystaatse polisie “is in die proses” om sektorpolisiëring in werking te stel.

“In sommige gebiede in die Vrystaat is daar wel nog ruimte vir verbetering. Die SAPD werk volgens ’n inwerkingstellingsplan vir die uitfasering van kommando’s en die infasering van die SAPD.

“Die plan behels onder meer die werwing van reserviste om kommandolede te vervang. Daar is reeds ver gevorder met die werwing van reserviste. Verskeie van dié reserviste was ook lede van die kommando’s wat uitgefaseer is.”

Wrensch sê die reserviste word nou opgelei. Die polisiehoofkantoor het ’n nuwe reserviste-beleid opgestel. Dié maak voorsiening vir die vergoeding van reserviste en dat sommige kategorieë van reserviste se voorwaardes vir toelating as reservis “verslap” het om die vervanging van kommando’s te vergemaklik.