TLU SA / TAU SA
194 James Avenue / Jamesrylaan 194
PO Box 912-51 / Posbus 912-51
SILVERTON / SILVERTON
0127 / 0127
T: (012) 804-8031, F: (012) 804-2014, E: info@tlu.co.za
W: www.tlu.co.za
KENNISGEWING : VEILIGHEID : GEMEENSKAPSOPNAME 2007
Verwysingsnommer:
RK27/1/6
Datum:
7 September 2006
Navrae:
Mnr Chris van Zyl, Bestuurder Veiligheid,
veiligheid@tlu.co.za
Na aanleiding van terugvoer van lede, is gesprek met Statistiek SA
gevoer op 24 Augustus 2006 met betrekking tot die bogenoemde opname.
Die volgende is meldingswaardig:
- Nasionale sensusopnames sal voortaan slegs elke 10 jaar geskied.
- Die opname geskeduleer vir 2007 is 'n tussentydse mini-opname om
die drastiese veranderinge sedert die laaste sensus (2001) te
ondervang. 'n Wye verskeidenheid gegewens wat in essensie
soortgelyk is as die inhoud van 'n nasionale sensus, word ingesluit.
- 'n Voorafopname om die aantal strukture wat vir huisvesting gebruik
kan word te bepaal, is tans in proses. Hierdie opname sluit alle
strukture in voorafbepaalde gebiede in die land in. 'n Totaal van
ongeveer 181,000 geboue is hierby betrokke. Hierdie fase is tans in
proses.
- 'n Totaal van 1703 afgebakende landelike gebiede wat plase behels,
word by die finale data-insameling betrek. Dit is moontlik dat meer
as een plaas in so gebied betrokke mag wees. Hierdie fase vind
gedurende Februarie 2007 plaas.
- Slegs elke vyfde struktuur binne die voorafbepaalde gebied word
ingesluit vir die opneem van finale data.
- Die Statistiekwet noop die burgery om antwoorde te verskaf op vrae
vervat in amptelike opnames. Uit die gesprek was dit egter duidelik
dat Statistiek SA nie tans hierdie opsie oorweeg nie.
TLU SA INSETTE
Na afloop van die aanbieding, is die volgende standpunte aan Statistiek
SA oorgedra:
- TLU SA is positief en konstruktief ingestel om goeie, akkurate en
toepaslike statistiek moontlik te maak met dien verstande dat die
persoonlike veiligheid en bates van lede nie in die proses gekompromiteer
word nie.
- Ooglopend was daar nie oor hierdie opname (soos ook met ander
opnames) met die rolspelers (spesifiek TLU SA) in landbou geskakel nie.
- 'n Ooreenkoms bestaan met die Statistikus Generaal in persoon dat
geen persoonlike besonderhede van 'n boer wat terugspoorbaarheid moontlik
sal maak, in opnames vervat word nie. Die huidige opname maak wel daarvoor
voorsiening.
- Van die informasie verlang kan veiligheidsimplikasies inhou as dit
in die hande van kriminele beland.
- Dit is maklik vir kriminele om hulle as veldwerkers voor te
doen. Onlangse plaasaanvallers het met groot sukses hulself as SAPD
lede voorgedoen.
- Die vertrouensverhouding tussen boere en verteenwoordigers van die
owerheid is in ernstige gedrang.
VOORSTELLE GEMAAK
- Die moontlikheid om die blad wat die persoonlike informasie (naam,
adres, ens) bevat, kan van die opnamevorms verwyder word en kan die vorms
dan later deur middel van die struktuur kollektief ingehandig word.
- TLU SA kan self persone (gesinslede en/of vriende) identifiseer om
by die afneem van besonderhede betrokke te wees alhoewel die persoonlike
terugspoorbare besonderhede steeds verwyder word.
- Lede kan besonderhede op 'n sentrale plek weg van die plaas,
verskaf. (Statistiek SA voorstel)
- Indien TLU SA tydig voorsien kan word van lede wie se eiendom
betrokke is by die opname, kan spesifieke reëlings getref word.
RIGLYN VIR OPTREDE
TLU SA handhaaf die posisie dat enige opname van informasie nie
terugspoorbaar moet wees en op so manier misbruik mag word om die veiligheid en
status van lede negatief te beïnvloed nie. Terwyl die personeel van
Statistiek SA besin oor TLU SA se insette, moet lede wat genader word om
deel te neem aan die huidige oefening (tel van strukture), geen ander
detail voorsien as die getal en tipe strukture op hul eiendom nie.
Terugvoer van Statistiek SA na aanleiding van TLU SA standpunte, word
tans afgewag. Daarbenewens het die Dagbestuur op 4 September 2006
vergader en die saak bespreek. Indien nodig, sal meer detail volg.