Jammer minister, ons glo julle nie meer nie
03 Oktober 2006
MNR. CHARLES NQAKULA, minister van veiligheid en sekuriteit, het met die
bekendmaking van die jaarlikse misdaadstatistieke misdaadvoos Suid-Afrikaners
probeer wysmaak die land word al hoe veiliger en die toekoms lyk “rooskleurig”
sover dit die bestryding van misdaad betref.
Aldus die minister het die voorkoms van misdaad die 11de agtereenvolgende jaar
’n beduidende daling getoon.
Dis ongelukkig nie wat die meeste Suid-Afrikaners in die land ervaar nie.
Suid-Afrikaners is boonop grootliks in die duister oor die presiese jongste
misdaadsituasie omdat syfers net een keer per jaar bekend gemaak word – en
wanneer dit soos nou gedoen word, bevat dit volgens die minister se eie
erkenning nie die “skielike toename in misdaad die afgelope maande in veral
Gauteng” nie.
Hoeveel waarde kan swart, bruin en wit misdaadvoos en -getraumatiseerde
Suid-Afrikaners dus aan die maande oue eenmaal jaarlikse statistieke en die
minister van veiligheid en sekuriteit se aansprake heg, in die lig van die
volgende:
Vroeër vandeesmaand het die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, me.
Susan Shabangu, ’n blatante leuen vertel deur te sê dat daar geen moratorium op
misdaadstatistieke is nie. En dat enige lid van die publiek by sy of haar
plaaslike polisiekantoor toegang daartoe het.
As die adjunkminister só ’n leuen kan vertel, hoeveel waarde moet aan haar
departement se statistieke geheg word?
Twee weke gelede is ’n peiling gepubliseer wat wys 75% van stedelinge in
Suid-Afrika voel onveilig in hul eie land weens misdaad. En 80% glo nie die
misdaadsyfer neem af nie.
Dis tog seker nie om dowe neute nie? Dis omdat hul ervaring van wat gewone
Suid-Afrikaners dag en nag beleef aan die hand van misdadigers, anders is as
die prentjie wat die minister skilder.
Terwyl Nqakula probeer voorgee die land word ál veiliger en die toekoms lyk
“rooskleurig” wat misdaad betref, het die ouditeur-generaal, mnr. Shauket
Fakie, ’n ander prentjie geskilder oor wat in die departement van veiligheid en
sekuriteit self aan die gang is.
Fakie het die departement getakel oor dié se gebrek aan beheer oor sy
hulpbronne en operasionele bates.
Dit plaas verdere vrae oor die korrektheid, noukeurigheid en volledigheid van
die misdaadstatistieke van ’n departement wat só slap en swak bedryf word.
Onlangs het Nqakula boonop sy eie onkunde óf gevoelloosheid óf rassisme rondom
misdaad geopenbaar deur te sê dis net blankes wat kla oor misdaad en dat dié
wat kla, uit die land moet padgee.
Derduisende Suid-Afrikaners rapporteer ook doodeenvoudig nie meer misdade nie
omdat daar niks daaraan gedoen word óf oor die sloerende óf traak-my-nie-agtige
manier waarop die indien van klagtes dikwels gehanteer word.
Sou hierdie ongerapporteerde misdade by behoorlike amptelike statistieke gevoeg
word, sal die ware omvang van die skrikwekkende misdaadgolf in hierdie land
duideliker blyk.
Nqakula en sy adjunkminister het net hulself te blameer dat hulle nie geglo
word nie wanneer hulle aan die hand van hul saamgestelde statistieke probeer
wys die land word ál veiliger en die toekoms lyk “rooskleurig” wat misdaad
betref.
Hoogstens kan aan die hand van die verskafte statistieke gesê word dat misdade
soos byvoorbeeld moord en verkragting op heeltemal te hoë vlakke gestabiliseer
het. En dat die reuse-styging van 74% in byvoorbeeld transitorooftogte daarop
dui dat iets radikaals gedoen sal moet word voordat Suid-Afrikaners sal glo die
toekoms lyk “rooskleurig”.
Die minister moet ook weet dat ’n opdraande stryd vir hom en sy adjunkminister
persoonlik voorlê om hul geloofwaardigheid in die oë van die publiek te
herstel.
Een remedie sal wees as misdaadstatistieke weer gereeld bekend gemaak word. En
dat statistieke deur ’n onafhanklike instansie geouditeer word.
Voordat die ouditeur-generaal nie in sy verslag kan uitwys dat die departement
van veiligheid en sekuriteit se gebrek aan beheer oor sy hulpbronne en
operasionele bates, reggestel is nie, sal enige statistieke in elk geval met ’n
knypie sout geneem word.
Volksblad bedank laastens elke hardwerkende, pligsgetroue polisieman of -vrou –
en daar is duisende – wat in uiters moeilike omstandighede hul werk pligsgetrou
doen.
Hulle, soos die res van die land se inwoners, word egter gefaal deur ’n
minister en sy adjunk vir wie ons sê: Jammer, ons glo julle nie meer nie.