Hernu lisensies vir wapens vroegtydig
12/08/2006

http://www.dieburger.com/Stories/News/11.0.975809669.aspx

KAAPSTAD. – Die polisie het ’n beroep gedoen op wapeneienaars wat teen Maart 2008 hul lisensies moet hernu om dit nou al te doen.

Dir. Phuti Setati, woordvoerder van die polisie, het gister gesę wapeneienaars wat tussen 1 Julie en 30 September verjaar, moet hul lisensies so vinnig moontlik hernu “om te voorkom dat hulle in die chaos van die laaste paar weke van hernuwing betrokke raak”.

Volgens Setati sal wapeneienaars wat hul lisensies nie binne die vasgestelde tyd hernu nie, aangekla word. As ’n wapeneienaar in ’n hof skuldig bevind word, kan hy tot 12 maande tronkstraf, ’n stewige boete of albei opgelę word.

“Die hernuwingsdatums en -tydperke is soos volg: Mense wat tussen 1 Januarie en 30 Junie verjaar se lisensies moet op 31 Maart volgende jaar hernu wees.

“Die tweede fase geld vir verjaardae van 1 Julie tot 30 September. Dié groep se lisensies moet teen 31 Maart 2008 hernu wees en die groep wat tussen 1 Oktober en 31 Desember verjaar se lisensies moet op 31 Maart 2009 hernu wees,” het hy gesę.

Volgens Setati moet ondernemings soos veiligheids-, en opleidingsondernemings, wild- en jagplase, jagondernemings, en televisie- en filmproduksiehuise se wapenlisensies teen 31 Desember vanjaar hernu word.

“Wapeneienaars wat besluit om nie ’n lisensie te hernu nie, moet voor 1 Julie 2009 van die wapen ontslae raak.”