Hang hom!’ eis betogers ná martel-moord

Swartruggens. – Die verdagte in die martelmoord op mnr. Frans Pieterse (44) het gister in ’n leë hof hier verskyn terwyl ’n groot groep boere en lede van Solidariteit buite teen plaasaanvalle in Suid-Afrika betoog het.

Die saak teen mnr. Kabelo Ernest Khoza (18) is tot 23 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek en om vir regsverteenwoordiging te reël. Hy is ná sy verskyning terug na die polisieselle oorkant die straat.

Khoza en twee ander verdagtes, wat nog op vrye voet is, het Pieterse en sy gesin na bewering verlede Woensdag in hul huis op ’n kleinhoewe aangeval en vir sowat vier uur gemartel.

Pieterse is met kookwater gebrand, sy voorkop is oopgesny en hy is met ’n skoenveter verwurg. Mev. Daleen Pieterse se linkerbeen is twee keer net bo die enkel oopgesny. Sy en ’n minderjarige familielid is voorts met smeltende plastiek gebrand.

“Hang hom, hang hom!” het die groep betogers onder meer geskree sodat Khoza dit in die selle kon hoor. ’n Paar dwarsklappe is na mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, uitgedeel wat op ’n vredesmissie in die Demokratiese Republiek van die Kongo is “terwyl sy eie land brand”.

“Ons is moeg dat weerlose mense uitgemoor word. Watter reg het ons blanke boere op lewe in Suid-Afrika? Is ons nog welkom in dié land?” het een boer gevra.

’n Groep swart en bruin inwoners van Swartruggens het die betogers met belangstelling van die oorkantste sypaadjie gade geslaan. Me. Susan Hennie het gesê hulle voel uitgesluit. Hulle sou graag saam wou betoog.

“Ons voel niks vir die verdagte nie, ons is Tswana, hy is Shangaan.

“Ons bly saam in hierdie dorp. Ons moet almal saamwerk. Ons het vir Frans geken. Hy was ’n goeie man. Hy’t saam met ons gedrink by die bar,” het Hennie gesê.

Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Solidariteit se burgerregte-inisiatief AfriForum, het gesê die groep swart mense is wel genooi om aan die betoging deel te neem, maar ’n polisie-inspekteur het hulle gekeer omdat hy bang was vir “konflik”.

Gister se betoging was deel van AfriForum se Stop die Moorde-veldtog teen geweldsmisdaad, veral op plase en kleinhoewes. Die vakbond eis daadwerklike optrede van die regering.