Grondhervorming só verder beduiwel
Jan 16 2007
 

BEDOELD of onbedoeld word ’n gevaarlike verband geskep tussen werkers wat van plase afgesit word en moorde op boere. Dit beduiwel die hele kwessie van grondhervorming verder – noodsaaklike hervorming om die wanbalanse van die verlede reg te stel.

 

Die aanleiding hiertoe is ’n onlangse advertensieveldtog teen plaasafsettings van me Lulu Xingwana, minister van landbou en grondsake.

 

Landbouleiers het beswaar gemaak dat gemoedere hierdeur opgesweep word en wanpersepsies geskep word. Ondanks herhaaldelike versoeke aan die minister om bewyse te verskaf soos saaknommers en so meer om die persepsies wat met die advertensieveldtog gewek word te staaf, weier sy om dit te doen.

 

Die moord op ’n plaasbestuurder in KwaZulu-Natal wat wreed met knopkieries doodgeslaan is in ’n geskil oor grond, is die soort gevolg van ongestaafde opsweping van gemoedere, waarteen landbouleiers waarsku. Lees ook die brief hiernaas van ’n landbouleier hieroor.

 

By navraag het die minister se woordvoerder binne die konteks van die persepsies wat die advertensieveldtog wek, boonop die dubbelsinnige antwoord gegee. Die minister is bekommerd oor enige sterftes op plase, ongeag of dit “plaasbewoners, eienaars of bestuurders” is.

 

Binne dié hoogspanning-situasie rakende grondhervorming, het mnr. Ace Magashule, leier van die ANC in die Vrystaat, in sy ANC-verjaarsdagboodskap gesê daadwerklike stappe sal teen plaasmoorde en -aanvalle gedoen word. En toe bygevoeg dat ook ernstig teen plaasuitsettings opgetree sal word.

 

Die noem van optrede teen plaasuitsettings en plaasmoorde in dieselfde asem, kan bedoel of onbedoel gevaarlike persepsies wek. Of verkeerd verstaan word en spanning meebring wat selfs in moord eindig.

 

As regeringsleiers bewyse van ontwettige plaasafsettings het, moet dit gegee word, sodat daarteen opgetree en dit veroordeel kan word. Misbruike van enkelinge mag egter nie gebruik word om die hele boeregemeenskap te teerkwas nie.

 

Die indruk wat met die advertensieveldtog gewek word dat plaaswerkers links en regs en summier van plase afgesit kan word, is verkeerd. Wat beskuldigings oor afsettings betref, geld die regsreël sekerlik ook dat iemand onskuldig is tot sy skuld bewys is.

 

As die minister van landbou konstruktief wou wees, moes sy ook in haar advertensieveldtog gewys het op die wetlike riglyne wat gevolg moet word voordat ’n werknemer van ’n plaas afgesit kan word. Dit beskerm werknemers en verseker dat daar nie onbillik teen hulle opgetree kan word nie.

 

Die regering het in sy amper dertien jaar aan bewind immers verfynde arbeidswetgewing ingestel om alle werkers, ook plaaswerkers, goed te beskerm.

 

Wat diensverhoudings op plase betref, het plaaswerkers net soos werkers in ander bedrywe, boonop ook toegang tot die Kommissie vir Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om werknemers en werkgewers se regte te help bereg.

 

In die vorige boekjaar was daar maar 166 wetlike afsettings. As die minister bewyse het om die persepsie te staaf van onwettige afsettings op ’n reuse-skaal wat so ’n advertensieveldtog regverdig, moet sy die inligting verstrek.

 

Daar sal sekerlik op plase, soos in enige bedryf, misbruike voorkom en onwettige afsettings wees – wat enige regdenkende mens veroordeel. Dis egter onbillik en onverantwoordelik om te veralgemeen en boere en die hele proses van grondhervorming daardeur te benadeel.

 

Hoe sou die minister voel as die boeregemeenskap byvoorbeeld aan die hand van politici soos Tony Yengeni en sy opvolger se misstappe, net so veralgemeen en ’n advertensieveldtog landwyd begin wat lui: ANC-regeringsleiers is bedrieërs en seksuele teisteraars.

 

Die jongste koppeling van plaasafsettings en plaasmoorde, kom ná boere vir langer as ’n dekade alleen die skuld gegee is vir die stadige vordering met grondhervorming.

 

Ondanks die feit dat met vers en kapittel daarop gewys is dat die regering nie die kapasiteit het om grondhervorming te hanteer nie en dat ook hopeloos te min geld beskikbaar gestel word vir die gestelde doelwitte, is volgehou om die skuld op boere in die algemeen te pak. Weer eens was dit ’n groot veralgemening. En is die individuele gevalle van boere wat nie wou saamwerk nie, as die norm gebruik om die regering se eie onvermoë te probeer verdoesel.

 

Daar is selfs op die hoogste vlak van regeringskant gedreig daar kan by Zimbabwe geleer word oor grondhervorming.

 

In November verlede jaar het die minister van landbou pleks van die skuld weer op boere te pak, onverwags erken probleme in die departement van grondsake verydel grondhervorming.

 

Sy het die gesloer met grondeise aan swak dienslewering in haar departement toegeskryf en die Staatsdienskommissie gevra om in te gryp.

 

Benewens ander leemtes aan regeringskant het dit geblyk dat sowat 1 000 poste in die departement van landbou en grondsake vakant is.

 

Uit ’n begrotingsverslag blyk ook gronsake het in die eerste ses maande verlede jaar net R1,2 miljard of 24,6 % bestee van sy begroting van R4,4 miljard.

 

Hierdie koerant het die minister geloof vir haar eerlikheid en geskryf die regering verdien alle steun om die kernprobleme van grondhervorming te pak.

 

Daar is in dié ruimte geskryf: “Ons hoop dat haar optrede as voorbeeld vir haar kollegas sal dien. Daar is verskeie van hulle wat kan baat vind by selfondersoek en eerlikheid oor gebreke in eie geledere.

 

“Dit is in landsbelang dat grondhervorming met welslae deurgevoer word. ’n Wen-wen-situasie is nog moontlik.

 

“Maar dan sal die regering sy eie, in hierdie geval erkende, onbevoegdheid moet regstel en ook genoeg geld beskikbaar stel.”

 

In nog ’n brief op die brieweblad hiernaas, blyk egter ’n alte bekende prentjie.

 

Hoewel dienslewering op munisipale en ander vlakke op sommige plekke só treurig is dat daar selfs opstande is, word daar nie van kundigheid van oud-amptenare gebruik gemaak nie.

 

Hulp word aangebied, maar die sentrale, provinsiale en sentrale regering klap die helpende hande weg.

 

Moenie op landbougebied ook die aanbiedinge om te help om probleme te help oplos wegklap nie. Of probleme vererger met ongestaafde verdagmakery nie.

 

Zimbabwe wys wat ’n land se bankrot-honger-lot is as grondhervorming verkeerd aangepak word.

 

En deur die aanhitsing van politici in ’n blote wettelose boewery en inpalming ontaard.