PERSVERKLARING

TLU - SA NOORD

PIETERSBURG STREEKKANTOOR

TEL: 015 – 297 3749 / FAKS: 015 – 297 2197 / E-POS: ntlu1@ctec.co.za

DATUM: 19 SEPTEMBER 2006

..........................................................................................................................................

GROEN LIGTE – WAAR STAAN ONS?

 

Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het kommentaar gelewer na aanleiding van die brief, gedateer 27 Julie 2006, vanaf die kantoor van die Provinsiale Kommissaris.

 

BRIEF VERBIED GEBRUIK VAN GROEN LIGTE

Mnr Joubert het gesê die brief vanaf die Provinsiale Kommissaris sê: “U word dus verbied om groen ligte te gebruik, aangesien dit in stryd met die bepalings van die Wet 93 van 1996 en ‘n misdryf daar stel in terme van art 89(1) saamgelees met art 89(6) van Wet 93 van 1996.”  TLU SA Noord het egter dadelik gereageer en met ‘n brief wat gedateer is 3 Augustus 2006 gevra: “TLU SA Noord het met dank kennis geneem van die deeglike navorsing wat gedoen is en wat in U brief uiteengesit is. U word egter gevra om die spesifieke artikel(s) van die regulasie / wet / ander wetgewing wat spesifiek verwys na die gebruik of wat die gebruik van die groen ligte verbied, aan ons te verskaf.  Dit sal die kantoor instaat stel om duidelike riglyne en volledige inligting aan lede deur te stuur.”

 

WAG STEEDS VIR TERUGVOER

Mnr Joubert het gesê dat daar nog geen terugvoer vanaf die SAPD in die verband was nie. Hy het gesê dat TLU SA Noord wetgehoorsame burgers van Suid Afrika is maar dat lede nie geintimideer sal word deur beweringe wat nie deur wetgewing gestaaf kan word nie. Dit is die verantwoordelikheid van die SAPD om die nodige wetgewing aan TLU SA Noord te verskaf.

 

WETGEWING

Die wetgewing wat ter sprake is, is regulasie 176(6) van die Regulasies van die Nasionale Padverkeerswet, 1996, Wet no 93 van 1996. Die artikel dui aan dat die gebruik van groen ligte volgens die Burgerlike Beskermingswet, no 67 van 1977, aan persone toegeken word wat onder die Burgerlike Beskermingswet genoem word. Wet 67 van 1977 is egter deur die Rampbestuurswet, 57 van 2002 herroep, blykbaar sonder dat die gebruik van groen ligte duidelik omskryf is. Daarvandaan die huiwering van die SAPD om op die brief van TLU SA Noord te antwoord.

 

STATUS QUO BLY

Mnr Joubert het gesê TLU SA Noord is nie ‘n vigilante organisasie nie maar ‘n goed georganiseerde wettige liggaam. Met opbetaalde lede, jaarliks verkose leiers wat gereeld vergaderings hou en wat gedissiplineerd gebiede beskerm in samewerking met die SAPD. Geen wettelose, ‘wilde-weste’ vigilante voorvalle word geduld nie.

 

Mnr Joubert het gesê TLU SA Noord gaan voort om die groen ligte te gebruik omdat die SAPD nie instaat is om mense in plattelandse gebiede te beskerm nie. Geen persoon kan sy / haar veiligheid delegeer nie. Dit is ook nog nie bewys dat daar enige wetgewing in die verband bestaan nie.

 

 

 

.............................................

Mnr F Du Toit

Voorsitter: Kommunikasie