PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD
PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 19 JUNIE 2006
..........................................................................................................................................
GROEN LIGTE IS DIT WETTIG?
Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het gereageer na aanleiding van berigte dat die gebruik van die groen ligte deur die plaaswag / steunkringe en die dorpswag stelsel op Louis Trichardt, onwettig sou wees.
Mnr Joubert het dit duidelik gestel dat lede van TLU SA Noord wetsgehoorsame burgers van Suid Afrika is. Dit sluit mense in wat al vir geslagte lank Suid Afrikaanse burgers is en wat sonder moeite billike wette gehoorsaam. Wat meer is, lede van TLU SA Noord het die voortou geneem met die opleiding en inwerkingstelling van Steunkring / Plaaswag en Dorpswagstelsels om die misdaad wat buite beheer is, te beperk. Dit is lede van die boerdery en dorpsgemeenskap wat, sonder vergoeding, die belangrik taak verrig en wat graag met die SAPD wil saamwerk om misdaad te VOORKOM. Die hoofdoel van Patrollies is die voorkoming van misdaad en lede tree nie buite die wet op nie en neem ook nie die werk van reserviste of SAPD lede oor nie.
Mnr Joubert het gesę dit het tot TLU SA Noord se kennis gekom dat die Burgerlike Beskermingswet, wet 67 van 1977 herroep is. Dit was die wet wat die groen ligte aan Burgerlike Beskermingsoptrede toegeken het. Daar is dus geen wet wat die gebruik van groen ligte verbied of reël nie.
Mnr Joubert het gesę dat owerhede soos die plaaslike en provinsiale SAPD, munisipaliteite en Magistrate in die betrokke gebiede in kennis gestel sal word dat die Steunkringe / Plaaswagte en Dorpswag patrollies die groen ligte gebruik in misdaad voorkomingsaksies ter ondersteuning en in samewerking met die aksies deur die SAPD.
Mnr Joubert het die owerhede weer eens uitgenooi om saam met die groepe te werk om sodoende misdaad te bekamp. Hy het ook die lede van die Plaaswag / Steungroepe en Dorpswag bedank vir hulle onbaatsugtige optrede om sonder vergoeding, tot laat in die nag, misdaadvoorkoming te doen. Dit is wat ons gemeenskap saambind en opbou en bewys weereens die belangrikheid van samewerking en betrokkenheid. Lede tree ten alle tye met trots en met absolute integriteit op. Niemand behalwe misdadigers word bedreig of behoort bedreig te voel nie.
.............................................
Mnr F Du Toit
Voorsitter: Kommunikasie