Dorp woedend ná moord
Oct 04 2006

 

PAUL ROUX. – Die eerste moord in 14 jaar op dié dorp het die gemeenskap op sy knieë. Al wat die mense nou ken, is woede en vrees.

 

Op sy knieë, met sy hande voor hom vasgemaak, is die verwurgde mnr. Fanie Schoeman (74), afgetrede boer van die plaas Rietpoort, vasgemaak met drade en toue aan ’n paal in sy motorhuis gekry.

 

Sy vrou, Christie (74), is so erg met ’n hamer geslaan dat sy haar oog verloor en haar wangbeen gebreek het.

 

Sy is steeds in ’n Bethlehemse hospitaal.

 

Konst. Christopher Mophiring, polisiewoordvoerder, sê dit is nog nie duidelik of een of twee onbekende mans die egpaar Maandag omstreeks 16:30 oorval het nie. Niemand is nog aangekeer nie.

 

Mev. Schoeman, wat siekerig was, het op die bank in die sitkamer gelê. Sy is hier oorval en met die hamer geslaan.

 

Die aanvaller(s) het haar glo gesê haar man is reeds doodgemaak en hulle sal nie skroom om haar dood te maak nie.

 

Die egpaar se seun Chris (45) sê hy vermoed sy pa is oorval terwyl hy besig was om sy groentetuin nat te gooi.

 

Hierna is sy ma toegetakel.

 

’n Groot bloedkol op die bank en haar pantoffels wat nog net so voor die bank staan, is getuienis hiervan.

 

Na verneem word, is sy na die slaapkamer gedwing. ’n Bloedbevlekte lap en kledingstukke is hier gekry.

 

Bloedspatsels in die badkamer kan daarop dui dat sy geprobeer het om haar te was. Sy kon later daarin slaag om hulp te ontbied.

 

Niks is gebuit nie en die motief vir die aanval is nie bekend nie.

 

Die egpaar, wat 51 jaar getroud was, het in Januarie verlede jaar na dié donkerrooi huis in Skoolstraat 4 getrek.

 

“Hulle het juis hierheen getrek sodat hulle veiliger kan wees,” sê Schoeman jr.

 

Hy en sy broer Johan (41) woon nou op Rietpoort.

 

Die egpaar het nog ’n seun, Fanie (50), wat in Johannesburg woon.

 

Die kliëntediensbestuurder van die Hoogland-Medi-Clinic op Bethlehem, mev. Karien Collett, sê mev. Schoeman, wat haar linkeroog verloor het, moes Maandagaand ’n operasie ondergaan.

 

“Sy is in ’n ernstige, maar bestendige toestand in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal.”

 

Schoeman se suster, mev. Lettie Bruwer, wat ook op die dorp woon, sê sy het net gesê sy weet nie hoe gaan sy sonder haar man klaarkom nie. Schoeman jr. sê dit is onverstaanbaar waarom dié grusame aanval gedoen is.

 

“Hulle was rustige, stil mense. Smiddae om 17:00 was hul deure al gesluit,” sê hy.

 

Afgesien van die moord in Desember verlede jaar op die 51-jarige boer, mnr. Wikus Stoffberg van die plaas Osplaat in die Kaallaagte-omgewing hier, is dit die eerste moord wat in 14 jaar in die middedorp gepleeg is.

 

Die vorige moord was die grusame voorval waarin die lyk van ’n tenger, vasgemaakte bejaarde vrou destyds met haar rug na onder in ’n vrieskas gedruk is.

 

’n Keelvol inwoner, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê die inwoners van die dorp en die woonbuurt Fateng leef in vrees en is “nou moeg vir al die misdaad hier”.

 

Die afgelope ses weke, sê sy, het twee gewapende rooftogte op die dorp plaasgevind.

 

Ook beweer sy die inwoners se noodkreet aan die polisie Maandagmiddag dat ’n “verdagte voertuig” deur die dorp beweeg het, het op dowe ore geval.

 

Die DA in die Vrystaat sê om ’n bejaarde so wreed te martel is só onvergeeflik dat die aanvaller(s) hul reg op lewe verbeur. Die leier van die party in die Vrystaat, mnr. Andries Botha, sê die enigste oplossing is ’n nuwe regering.

 

Die DA sal hom intussen daarvoor beywer dat ’n minister, wat nie erns met misdaad maak nie, vervang word, sê hy.

 

Ook die ACDP in die Vrystaat het in ’n verklaring met afgryse gereageer op die grusame moord.

 

“Dit is nie toevallig dat Schoeman op só ’n manier vermoor is kort nadat ’n regter gevra het ’n referendum moet oor die herinstelling van die doodstraf gehou word nie,” sê die Vrytstaatse mediawoordvoerder van dié party, mnr. Herman Toerien.