Boere vat polisie aan oor aanval op plaas
HARRISMITH. – Hulle is keelvol vir plaasaanvalle én vir polisielede wat nie
vinnig optree nie.
Só het boere in die omgewing hier gekla ná Sondag se aanval op die
Ferreira-gesin hier.
Boere het hul griewe Dinsdag op ’n maandelikse vergadering met die polisie
gelug.
Mnr. Fanie Ferreira, sy vrou, Hannetjie, en hul 17-jarige dogter, Johané, van
die plaas Grootgeluk (voorheen Boufarm), is Sondagoggend deur twee mans oorval,
met vuurwapens gedreig, vasgemaak, en van nege vuurwapens beroof.
Die mans het daarna gevlug.
Mnr. Eben Botha van die plaas Mountain View hier is kompaniebevelvoerder van
die kommando in die Harrismith-gebied.
Hy sê boere het hoofsaaklik twee klagtes – die aanval het eerstens om 11:00
plaasgevind en hoewel die polisie verskeie kere ontbied is, was hulle eers om
15:30 die eerste keer op die plaas.
Die tweede klagte is bewerings dat die waarnemende stasiekommissaris nie haar
bystandselfoon geantwoord het nie.
Daar word ook beweer Ferreira is nie na die voorval gevra om ’n verklaring af
te lê nie, sê Botha.
“Die hele boeregemeenskap is ontevrede omdat die polisie nie vinnig optree nie.
Een van die dae ontbind die kommando’s en wat gaan dan gebeur?” vra hy.
’n Polisiewoordvoerder, kapt. Hennie Labuschagné, sê die genoemde klagtes is
reeds aan die bestuur van die polisie in die Oos-Vrystaat deurgegee.
’n Senior offisier in die polisie is reeds aangestel om die bewerings te
ondersoek, sê Labuschagné.
“Enige polisielid wat nie sy of haar pligte na wens uitvoer nie, sal intern
vervolg word,” sê hy.