Volksblad
Boere in oproer oor omstrede ‘skooltaak’
May 18 2006 11:26:01:680PM - (SA)
Buks Viljoen
CAROLINA. – ’n Omstrede “skooltaak”, waar leerlinge van ’n plaasskool gevra is om belangrike inligting oor plase in hul omgewing in te samel, het soveel opspraak onder die boere verwek dat dit nou glo selfs deur die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) ondersoek word.
Die skoolhoof van die Gekombineerde Skool Moedig (ook bekend as die Thokozani-skool), me. Thembi Kobe, het verlede week ’n handgeskrewe vraelys aan gr. 9-leerlinge oorhandig waarin hulle opdrag kry om onder meer ’n sketsplan van plase in die omgewing te maak.
“Hoewel die vraelys op sigwaarde onskuldig lyk, voel ons dat van die inligting gebruik kan word om moontlik plaasaanvalle te beplan,” sê mnr. Ernst van den Berg, ’n plaaslike boer en voorsitter van die Belfast-distrikslandbou-unie.
Volksblad het verneem dat mans wat hulle as NIA-agente voorgestel het, minstens een boer besoek het en navraag oor die vraelys gedoen het.
“Soos dit reeds is, is die spanning onder die boere op ’n naaldpunt oor ’n dreigende plaasbesetting. Dié voorval vererger beslis die situasie,” sê Van den Berg. Op die plan wat kinders moet optrek, moet inligting soos waar die hoofhuis, pakhuise, stalle en ander permanente strukture is, aangedui word. Boere is egter in oproer oor vrae soos hoe ver die plaas van die naaste dorp is, hoeveel mense op die plaas woon, hoe gereeld die boer sy bure sien, waar die plaaswerkers vandaan kom en watter soort samewerking daar tussen die boer en sy bure is.
Die vraelys het verlede week die eerste keer aan die lig gekom toe mnr. Lourens Greyling deur leerlinge van die Moedig-skool genader is. Hy het ’n afskrif daarvan gemaak. Die skoolhoof het die volgende dag ’n brief (waarvan ’n afskrif in Beeld, susterkoerant van Volksblad, se besit is) aan hom geskryf waarin sy sê dat die vraelys deel van die aardrykskunde-leerplan is.
’n Ander boer, wat anoniem wil bly, het op skoolkinders afgekom wat besig was om ’n plan van sy plaas te teken. Toe hy vra om die vraelys te sien, het die kinders glo geweier en gesê die onderwyser het gesê die boere mag dit nie onder oë kry nie, sê mnr. Clive Hatch, leier van die DA in Mpumalanga.
Hatch sê die Mpumalanga-onderwysdepartement het nog nie gereageer op vrae oor of die vraelys deel van die amptelike skoolleerplan is nie.
Lede van die NIA in Nelspruit het gister reeds met ’n ondersoek oor die vraelys begin. Supt. Theo de Bruyn, kommunikasiehoof van die polisie in Mpumalanga, het ook bevestig dat hulle die saak ondersoek. Kobe wou gister nie vrae oor die oorsprong van die vraelys beantwoord nie.