Boer opgehang, vrou ernstig beseer in aanval
Oct 03 2006
PAUL ROUX. – Gistermiddag helder oordag is ’n afgetrede boer hier vermoor en sy
vrou kritiek gelaat toe waarskynlik diewe hulle in hul huis hier op die dorp
aangeval het.
Mnr. Fanie Schoeman (74) is in sy motorhuis met draad opgehang.
Mev. Christie Schoeman is na verneem word oor die kop en in die gesig geslaan.
Sy is kritiek en is na die Hoogland-Medi-Clinic op Bethlehem vir behandeling
gebring. Volksblad verneem dat die voorval omstreeks 16:00 plaasgevind het.
Slegs die inhoud van mev. Schoeman se handsak is na bewering gevat.
Schoeman het op die plaas Rietpoort in die Paul Roux-distrik geboer en het
verlede jaar afgetree. Sy seuns boer nou op die plaas.
Mnr. Johan Schoeman, sy seun, sê hy glo die motief was moord. “My pa is
vermoor,” het hy aan Volksblad gesê.
Hy sê sy ma het om 16:15 gebel en gesê dat hulle aangeval is. Dit is nie bekend
hoeveel aanvallers betrokke was nie. Die polisie ondersoek die saak.
Schoeman word ook oorleef deur sy seuns, Fanie en Chris.