Boer oorwin
kanker; nie graaf-aanval
Feb
25 2007
11:09:19:817PM - (SA)
Linda de Beer
Schweizer-Reneke. – Die bejaarde boer wat Vrydagaand voor sy 85-jarige vrou met
’n graaf aangerand en verskeie kere gesteek is, het twee weke gelede ’n groot
ooroperasie weens kanker oorleef.
Mnr. Steve Rademeyer (78) is op die woonkamermat dood nadat twee aanvallers met klapmusse hom erg met een van die egpaar se grawe oor die kop en lyf geslaan het. Hy is ook verskeie kere met ’n onbekende voorwerp gesteek, het supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, gesê.
Rademeyer se vrou, Engela, se hande en voete is vasgebind, waarna sy na die kluis gesleep is om dit oop te sluit. Haar man se moordenaars het slegs met ’n rewolwer, ’n selfoon en ’n bietjie geld en kos gevlug.
Mnr. Pieter Rademeyer, die egpaar se seun, het gesê dis asof die aanvallers op ’n sending was om sy pa te vermoor.
“Ek kan nie vir jou in woorde die barbaarsheid beskryf nie. Dis hartseer, hoor. Dis só onnodig. Só sinloos.”
Mev. Rademeyer het sowat twee uur lank gestoei om haar voete los te maak en bure te bel vir hulp. Sy het haar voete losgesny met ’n broodmes waarmee die aanvallers haar gedreig het.
Voordat sy kon bel, moes sy verskillende dele van die telefoon optel en aanmekaarsit.
Die aanvallers het dit van die tafel gegooi.
Jacobs het gesê dis nie seker hoe die booswigte kort ná 19:00 in die huis gekom het nie. Daar was geen teken van gedwonge toegang nie.
Volgens ’n buurman van die Rademeyers was hulle baie veiligheidsbewus. Selfs as mnr. Rademeyer bedags ’n draai op die plaas geloop het, het hy sy vrou in die huis toegesluit.
Rademeyer jr. het gesê mense sal sê sy ouers moes op hul ouderdom nie meer alleen op die plaas gebly het nie.
Maar so baie mense word volgens hom deesdae in dorpe en stede vermoor dat dit nie noodwendig veiliger is nie.
Dit is die eerste plaasmoord in ’n baie lang tyd in dié omgewing.
“My pa het ’n paar keer kanker gehad en dit elke keer oorwin. Net laas Maandag het hy ’n groot ooroperasie gehad waartydens ’n gewas verwyder en rekonstruksie gedoen is. Hy was altyd so blymoedig oor sy siekte,” het Rademeyer jr. vertel.
Mev. Rademeyer het skaafmerke aan haar hande en voete waar sy vasgebind is.
Haar seun het gesê dit gaan onder die omstandighede goed met haar.
Die egpaar het ’n leeftyd op die plaas,Weltevrede, geboer.
) In ’n tweede voorval is nóg ’n bejaarde egpaar van Noordwes Vrydag in hul huis in Du Plooystraat in Potchefstroom aangeval.
Mnr. Issy Kotzen (83) is omstreeks 09:00 gedwing om die voordeur oop te sluit vir drie mans wat ’n haelgeweer op hom gerig het.
Kotzen wou nie vir die mans oopmaak nie nadat hulle eers vir water gevra en toe gesê het hulle verkoop mediese skemas, het Jacobs gesê.
Kotzen, sy vrou, Beatrice (77), en me. Selina Lewane (42), hul huishulp, is in die huis aangehou en met die vuiste aangerand. Lewane is volgens Jacobs erger aangerand, maar niemand is ernstig beseer nie.
Die rowers wou die sleutels vir die kluis hê, maar Kotzen het vir hulle gesê dit word nie in die huis gehou nie. Hulle het met ’n klein bedrag kontant en ’n horlosie in die Kotzens se Honda-motor gevlug.
Danksy die motor se satelliet-opsporingstelsel is dit tot in Sebokeng gevolg. Dit is voor ’n hostel gekry.
Twee verdagtes, albei in hul laat twintigerjare, is daar in hegtenis geneem. Die derde verdagte is nog soek, het Jacobs gesê.