Boer dien
klag in oor werker van Eskom hom glo aanval
Feb
15 2007
09:41:00:423PM - (SA)
Marietie Louw-Carstens
Lephalale (Ellisras). – ’n Boer van dié gebied in Limpopo het ’n klag van
aanranding teen ’n Eskom-werknemer aanhangig gemaak nadat hy glo op sy plaas
oorrompel is.
Mnr. Charles Swart van die plaas Trompettersfontein is op 31 Januarie glo deur dié werknemer oorval. Dit het gelei tot ’n dringende brief wat TLU SA-Noord aan Eskom gestuur het, waarin gesê word die voorval word in ’n baie ernstige lig beskou.
Mnr. Stephen Hoffmann, voorsitter van TLU SA-Noord se ekonomiese sakekomitee, sê die voorval moet deur Eskom ondersoek en terugvoering binne 15 dae gegee word. As geen terugvoering gekry word nie, sal verdere stappe teen Eskom gedoen word.
TLU SA en Eskom het in November die Plaasbesoek-protokol-dokument bespreek wat bepaal geen vreemdelinge sal weens die veiligheidsituasie op plase toegelaat word nie.
Volgens Hoffmann het Swart op 31 Januarie ’n gemerkte Eskom-voertuig op een van sy plaaspaaie gesien. Die pad het na geen transformator gelei, waar ’n meterlesing gedoen moes word nie. “Daar is ook geen reëlings met die boer getref nie. Hy verskaf die afgelope nege maande self meterlesings aan Eskom.”
Swart het die Eskom-werknemer voorgekeer en gevra wat hy daar doen. Die man het glo gesê hy lees meters en dat hy nie sy werk met grondeienaars hoef te bespreek nie.
Swart het die werknemer gevra om die plaas te verlaat. “Die werker het gesê hulle gaan in elk geval plase in die gebied vat en die spesifieke plaas gaan na hom toe kom.”
Die man het toe verder op die plaas gery. Swart het hom weer voorgekeer en die werker het glo ’n stuk hout gegryp en Swart na bewering daarmee aangeval. Ná ’n stoeigeveg tussen die twee, is die man tot bedaring gebring en die polisie gebel.
Hoffmann het gesê TLU SA beskou die voorval as ’n plaasaanval. “Ons het al verskeie gesprekke met Eskom gehad oor veiligheid op plase. Ons is uiters bekommerd oor die bedoelings van sommige individue wat toegang tot eiendom het met die doel om lyne skoon te maak, meters te lees of herstelwerk te doen”.
Mnr. Fani Zulu, ’n Eskom-woordvoerder, sê hy sal ondersoek instel na die voorval.