70 boere betoog by Prins-moordsaak

Feb 24 2007

 

Groblersdal. – Sowat 70 boere het gister na die Groblersdal-streekhof opgeruk waar die vermeende moordenaars van mnr. Johan Prins (61) gister verskyn het.

 

Prins is sowat drie weke gelede buite sy plaashuis in dié omgewing vermoor.

 

“Johan Prins is nou deel van statistieke en dié statistieke het onaanvaarbare afmetings bereik.

 

“Hoeveel gevalle moet daar nog wees voordat die regering die nodige stappe doen?” het mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA net voor die drie mans se hofverskyning aan Beeld gesê.

 

Volgens hom is dit nou tyd dat die regering daadwerklik optree om misdaad in die land onder beheer te kry.

 

“Dit kan nie meer so aangaan nie. Die persepsie word geskep dat misdaad nie buite beheer is nie, maar ’n muur ter waarde van R90 miljoen rand word om die presidensie gebou.

 

“Suid-Afrika is besig om onder te gaan, dit is tyd dat al die betrokke partye hande vat, die kundigheid teruggebring word en misdaad ’n vuishou toegedien word,” het Van Zyl gesê.

 

Mnre. Refrei Mosoane (29), Solomon Choma (44) en Aubrey Mahlabe (30) het vlugtig op ’n aanklag van moord verskyn.

 

Landdros Andreas Mastoroudes het die saak tot 15 Maart uitgestel wanneer die drie om borgtog kan aansoek doen.

 

Prins is vermoor nadat hy en sy vrou, Marie (57), se honde vergiftig is. Hy is by die agterdeur van sy huis met ’n swaarkaliber-wapen in die rug geskiet en het oomblikke later gesterf.

 

Sy vrou is gedwing om die kluis oop te sluit waarna sy op ’n stoel met bloudraad vasgebind is. Die aanvallers het aanhoudend gedreig om haar dood te skiet en het haar met die kolf van die geweer teen die kop geslaan.

 

Hulle het met kontant, selfone, drie gewere, ’n handsak en ’n videomasjien in mev. Prins se Fiat Uno gevlug.

 

Die voertuig is later die oggend verlate op die Swartkop-pad gevind waar die aanvallers vermoedelik beheer daaroor verloor en die voertuig gerol het.