‘Wat
wil julle hê?’ – toe tref boer se knuppel rower!
Jun 21 2007
‘Dit verskeur jou. Daai trauma, daai angs. Jy voel jy gaan nóú doodgaan.”
Mnr. Malan Jonck is 60 jaar oud, “maar ek voel 102” ná ’n nag gister waartydens hy ’n groep gewapende rowers vir omtrent ’n uur lank by hom en sy vrou, Corrie (59), se slaapkamerdeur moes uithou met net ’n knuppel in sy hand.
Volgens Jonck het hy omstreeks 02:00 wakker geword van ’n geluid buite hul slaapkamerdeur.
“Ek vra vir myself: ‘Is dit nou die wind of wat?’ Toe luister ek mooi vir ’n tweede keer en ek hoor dis een wat probeer inkom,” het Jonck gister op hul plaas in die Suikerbosrand-natuurreservaat buite Heidelberg vertel.
“Toe skree ek vir hulle: ‘Ufunani ?’ (Wat wil julle hê?) en hulle sê: ‘Geld’.”
Jonck-hulle skuif elke aand ’n spieëltafel voor hul slaapkamerdeur en ’n driepootstaander van yster word onder die deur ingedruk. ’n Knuppel word bo-op die kosyn gebêre.
Dit is met die hulp van dié spieëltafel, driepoot en knuppel dat Jonck gisteroggend vir byna ’n uur lank die rowers buite gehou het.
“Dan gaan die deur bietjie oop, dan druk ek dit weer toe. Toe die gleuf groot genoeg is, druk een van die rowers sy kop deur.
“Toe slaan ek hom oor die kop met dié ding,” sê hy en wys na die knuppel.
“Só, met al my mag en krag. Die ding het skoon uit my hand geval van die skok.
“Dit was vir ’n rukkie stil. Ek weet nie of hulle hom weggesleep het nie, maar toe kom hulle terug,” vertel hy verder.
Dit is toe dat die rowers twee skote, vermoedelik een met ’n handwapen en een met ’n haelgeweer, deur die toe deur afvuur.
“Ek dink hulle het toe gehoor hoe my vrou histeries oor die telefoon sê: ‘Help asseblief. Help, ons is in die moeilikheid’.”
Mnr. Dirk Ras, ’n vriend van die Joncks, het omstreeks 02:16 ’n oproep van die egpaar ontvang.
Hy het minstens vier polisiekantore in die omgewing gebel. Niemand het glo geweet waar die plaas is nie en die Zonkizizwe-polisiekantoor, die naaste kantoor, se foon was glo die hele tyd beset.
Die polisie se radiobeheersentrum het later daarin geslaag om ’n polisievoertuig uit te stuur.
Die rowers het “nie veel gesteel nie”. Omtrent net ’n “R50 se radio”, ’n klein kompressor en suiker.
Die egpaar is ook in 2004 in die middel van die dag op die plaas aangeval.
“Dis maar soos ’n tweegeveg. Een van die twee kante moet wen. Dié keer het ons, dank die Here, gewen,” het Jonck gesê.
“Mens weet net nie of hulle vanaand weer terugkom nie,” het mev. Jonck moedeloos bygevoeg.