PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 26 MAART 2007
..........................................................................................................................................
BRANDBAANBESTUUR EN GRONDEROSIE
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het lede aangemoedig om nuut te kyk na brandbaanbestuur in die lig van moontlike erosie hetsy deur wind, water of verkeer deur vee of voertuie.
VOORSKRIFTE VAN DIE WET
Mnr. Chris Wagner, voorsitter van die Warmbad Brandbeskermingsvereniging sê, die Wet op Voorkoming van Veldbrande vereis ondubbelsinnig van elke grondeienaar om 'n brandbaan om sy eiendom te maak wat effektief sal verhoed dat 'n veldbrand van of na sy eiendom versprei.
Dit word aan die grondeienaar oorgelaat om te besluit hoe hy die baan vry van brandbare materiaal gaan kry en hou. Die Wet voeg dan ewe lakonies daaraan toe dat wat ookal gedoen word dit nie gronderosie mag bevorder nie.
GRONDEROSIE
Hoewel onbeheerde veldbrande inderdaad groot gevaar inhou en voorkom moet word, weet elke boer wat sy sout werd is egter dat kaal grond 'n onverantwoordelike uitnodiging vir gronderosie is, hetsy deur wind of water of verkeer deur vee of voertuie.
DROë WINTER REEDS VROEG OPGEDAAG
Wisselvallige weerstoestande en reënpatrone gooi egter boonop ook dikwels selfs die toegewyde bewaringsboer se planne omver. Hierdie jaar is 'n sprekende voorbeeld en sit ons reeds vroeg in die herfs met 'n situasie waar die voorkoms van wegholveldbrande 'n ewe wesenlike gevaar is as in ander jare eers teen die laat winter of vroeë lente.
VOORSTELLE TEN OPSIGTE VAN VERSKILLENDE GRONDTIPES
Mnr. Wagner het aanbeveel dat op redelik gelykliggende sagtegrond die antwoord skyn te wees om 'n baan rondom die grens te werk met 'n skottelimplement. Ongelukkig is die grense om sulke grond egter selde werklik gelyk en erosie volg dan.
In die geval van klipperige en golwende terrein, deesdae baie gewilde grond vir die skep van leefstylontwikkelings, word ewe voortvarend met kragtige grondverskuiwingsmasjiene ingeklim en 'n baan oopgedolwe. Met absoluut noodlottige gevolge en binne 'n jaar of twee word erosieslote rondom sulke plase opgemerk.
Mnr. Wagner sê dat die antwoord is om die basiese kennis waaroor lede reeds beskik toe te pas!
GRONDLAE
Die boonste een honderd millimeter van onversteurde grond bevat die meeste lewe en die grond dieper as dit word gewoonlik as dooie grond beskou. Daardie boonste lagie grond het 'n ingeboude vermoë om lewe te onderhou en homself in stand te hou. Word die grond versteur deur bewerking, word die lewenskrag daarvan ondermyn, en as ons dit met padskrapers of soortgelyke toerusting verwyder, word die grond ontbloot – wat ‘n wenresep vir erosie is.
Die sagste moontlike behandeling met minder gevaar as die tradisionele voorbrande wat juis alte dikwels hande uitruk, is 'n kombinasie van chemiese en fisiese maatreëls as voorkomingsmaatreël en doeltreffend georganiseerde bestryding tydens brande.
Eerste Fase. Verkieslik gedurende 'n droë tydperk.
Verwyder baie oordeelkundig met behulp van 'n stoot- of padskraper klippe en ander ongewenste materiaal soos bosse of bome 4-6 meter wyd langs die grens met die minimum versteuring van die bogrond. Waar dit moontlik is, hoef slegs as dit prakties blyk, oortollige of baie digte en ou gras met 'n bossieslaner verwoes te word. Dit behoort 'n wye baan te laat waarop met veiligheid met 'n plaastrekker of vierwieldryfbakkie beweeg kan word.
Tweede Fase. Verkieslik so laat moontlik in die seisoen maar gedurende 'n tydperk waar daar nog aktiewe groei van die verskillende grasse voorkom.
Hierdie netjiese grasbaan word dan as 'n eerste stap met uiterste sorg en goeie bestuur met 'n chemiese produk bespuit wat slegs die plante se bogrondse dele doodmaak sonder om die lewende wortelstelsel binne te dring. Onder geen omstandighede mag die wortelstelsel ook beskadig word nie want dit sal ons help om juis die hergroei te verseker wat volgende jaar se bedekking sal voorsien.
As 'n tweede stap in die tweede fase word die dooie bogrondse plantreste dan, sodra voldoende verwering plaasgevind het, met 'n paar ou padskraperbande agter 'n trekker gerangskik, platgesleep.
Grondeienaars wat nie trekkers het nie, kan ewe effektief 'n spuitbalk agter aan 'n vierwieldryfbakkie monteer en dit van druk en spuitstof voorsien met die vuurvegter waaroor elke plaas behoort te beskik.
In droë jare behoort een behandeling genoeg te wees en te hou tot deur die winter. In nat jare en gedurende laatreënperiodes waar groei tot laat in die seisoen voorkom, behoort stappe een en twee herhaal te word.
Derde Fase. Deurlopend en jaar tot jaar.
Om uitputting van die gras se wortelreserwes te verhoed en groeikragtigheid te behou, moet die hergroei op die bane so laat moontlik in die seisoen gelaat word, verkieslik tot dit saadgeskiet het, voordat dit bogronds doodgespuit word. Onder veral wildheinings kan die gras in 'n smal baan heeltemal doodgespuit word om die draad self te beskerm. Wisselende weerpatrone speel egter altyd 'n rol en aanpassings sal met oorleg gedoen moet word.
Mnr. Joubert het gesê dat goeie brandbaanbestuur noodsaaklik is vir die voorkoming van veldbrande maar ook vir die voorkoming van erosie. Lede word aangemoedig om die maak en instandhouding van brandbane op Boerevereniging vergaderings te bespreek. Plaaslike kennis van grond en terrein sal ‘n deurslaggewende rol speel om erosie te voorkom.
.............................................
Mnr F Du Toit
Voorsitter: Kommunikasie