PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD
PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 21 FEBRUARIE 2007
..........................................................................................................................................
BEREI VOOR VIR WINTER DROOGTE
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het lede aangemoedig om nou reeds voorsorg te tref vir, wat beskryf kan word, as ‘n verwoestende winterdroogte. Die volgende verslae is van die agt (8) distrikkantore ontvang:
A. ALGEMENE LANDBOUTOESTANDE
TLU SA Noord bestaan uit agt (8) distrikte, naamlik: Soutpansberg, Pietersburg, Potgietersrus, Waterberg/ Warmbad, Thabazimbi, Koedoesrand, Ellisras en Vaalwater.
Die volgende vrae is aan elke DLU gevra:
1. Hoe lyk die graan aanplantings en is daar enige skade.
2. Wat is die kondisie van die vee?
3. Oorsig oor weidingstoestande
4. Is daar voldoende voer vir die winter?
5. Is daar genoeg water huidig en vir die winter?
Soutpansberg:
Pietersburg:
1. Mielies word slegs hier en daar aangeplant onder besproeiing (spilpunte). As gevolg van die geweldige hittegolf verdamp die water vinniger as wat die mielies dit kan absorbeer.
2. Die kondisie van die vee is nog goed maar groot kommer heers vir die winter. Groot deel van die gebied is soetveld en die beeste is nog mooi.
3. Die weiding is in groot gedeeltes alreeds swak. Sommige lede het aangedui dat hulle vir die hele seisoen nie meer as 70 mm reën gehad het nie.
4. Indien dit nie voor die einde van Maart goed reën nie, sal daar nie genoeg weiding vir die winter wees nie.
5. Die dorpie Dendron, ondervind die afgelope twee (2) maande alreeds water probleme. Gate wat geboor was is of droog, of het min water. Die grondwater is beslis nie met die vorige reën aangevul nie. Boorgate by sommige boere het reeds opgedroog. Een boer moes sy plaas verkoop omdat dit nou slegs vir wildboerdery geskik is, en ‘n ander plaas koop waarop hy kan besproei. Geen rivier in die gebied het al afgekom en sterk geloop nie.
Potgietersrus:
Waterberg / Warmbad:
1. Daar is reeds skade aan gesaaides as gevolg van te min reën. In die gebied word mielies en sonneblom aangeplant. Baie boere het reeds begin om mielies in te sny as gevolg van die droogte. Baie wat droë land aanplantings doen, kon nog nie aanplant nie. Die gebied is bekend vir die redelike groot sonneblom aanplantings maar huidig is min nog aangeplant.
2. Die kondisie van die vee is nou nog redelik goed maar groot kommer heers oor die winter weiding.
3. Die weiding is nou reeds redelik tot swak.
4. Die winterweiding is reeds ‘n probleem al reën dit nou goed.
5. Die ondergrondse waters begin swak word. In die vlakte begin boorgate alreeds wind suig, die eerste keer vanaf 1986. Water gaan ‘n probleem wees, nou en beslis in die winter.
Thabazimbi:
1. In die gebied word gewoonlik sonneblom op droëland aangeplant. By Northam is nog nie aangeplant nie. By Dwaalboom is die lande voorberei maar nog niks is aangeplant nie omdat dit te droog is. Oor die algemeen gaan dit swaar.
2. Die kondisie van die diere is nog goed. Die voordeel was die goeie voorsomer wat tot die nuwe jaar geduur het maar daarna het die reën weggebly. As die goed reën voor einde Maart kan die veld nog herstel.
3. Weiding is nou nog goed maar baie droog.
4. As dit nie reën nie, gaan groot probleme in die winter ontstaan.
5. Die krokodil rivier staan – maar dit is normaal. Die rivier is van reënval in die hoëveld afhanklik. Die boorgate is nog redelik.
Koedoesrand:
1. Geen graan aanplantings in die gebied.
2. Die kondisie van die vee is nog redelik tot goed.
3. Die weiding is nou reeds swak en die bosveld is baie droog. Daar is reeds plekke waar daar geen weiding oor is nie. Indien dit voor einde Maart reën kan die weiding nog herstel.
4. Die winter gaan ‘n probleem ondervind word omdat die weiding nou reeds onder druk verkeer.
5. Die riviere in die gebied het almal geloop en boere se damme is vol. Die Limpopo loop nog maar die Magalakwena rivier staan. Daar is plekke waar boorgate reeds met tot 30 meter gesak het. Die boere wat water beskikbaar het, het groente onder besproeiing aangeplant. Die boere wat nie water beskikbaar het nie, het glad geen aanplantings gedoen nie.
Ellisras:
1. Mielies word in die gebied aangeplant. Min reën het skade aan aanplantings veroorsaak.
2. Beeste en wild begin nou maer word.
3. Die weidingstoestande is redelik maar begin nou vinnig agteruit gaan.
4. Die boere sal nie deur die winter kom met die huidige toestand van die weiding nie. Veral in Stokpoort en Steenbokpan word groot probleme verwag.
5. Die dam staan op 84%. Geen water vloei meer in nie. Ondergrondse waters is nog redelik. Nog geen klagtes van boorgate wat opdroog nie.
Vaalwater:
1. In die gebied word saadmielies, tabak, groente en lusern geplant. Maar alles droog uit van die geweldige hitte. Besproeiing is nie effektief nie as gevolg van die hitte. Die boere wat saadmielies geplant het, stroop nou en die oes sal in wees voordat skade veroorsaak word. In die droë land aanplantings is die skade reeds gedoen. Die water is nou op en geen nuwe aanplantings word verwag nie. Die droë land aanplantings het nie gebeur nie en boorgate het reeds opgedroog.
2. Die diere is oor die algemeen nog in redelike toestand.
3. Die boere wat goeie weidingspraktyke en goeie belading toepas, se veld is nog in goeie kondisie. Maar die wat te veel diere aanhou, ervaar nou reeds weidingsprobleme.
4. Niemand sal deur kom nie, nie eers die boere wat goeie weidingsbeheer toepas nie. Probleme word verwag einde April begin Mei. Die warm dae is te erg. Die weiding sal herstel indien goeie reën val.
5. Die sandrivier staan. Boorgate het reeds opgedroog. Daar is dele in die rivier wat staan waar boere nie meer kan pomp nie.
Mnr. Joubert het gesê dat daar nou al voorspel kan word dat, indien goeie, wydverspreide reën nie voor einde Maart 2007 val nie, groot probleme vir alle boere in die Noordstreek verwag kan word. Lede word aangemoedig om nou reeds planne in plek te stel om die krisis aan te spreek.
.............................................
Mnr F Du Toit
Voorsitter: Kommunikasie