PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD - PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 19 FEBRUARIE 2007
..........................................................................................................................................
VROUE BOER VAN DIE JAAR KOMPETISIE
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord en die Presidente van VLU Noord, Mevrou Retha Prinsloo, het hul tevredenheid uitgespreek met die gesamentlike projek vir vroue boere in die Noordstreek.
EERSTE POGING
Gedurende die VLU Noord kongres wat in Mei 2007 gehou word, sal die eerste Vroue Boer van die jaar kompetisie asook die eerste Persoonlikheid van die jaar aangewys word. Die twee toekennings word gesamentlik deur VLU Noord en TLU SA Noord geadministreer.
ERKENNING VIR ONS TOP VROUE BOERE
Die gesogde Vroue Boer van die jaar kompetisie is ingestel om vroue wat op landbou gebied presteer, te vereer. Landbou word deur manlike kollegas oorheers maar daar is verskeie vroue wat die uitdagings met durf aangepak het en wat uiters suksesvol as kommersiële boere hul besighede bedryf. Die wenner se prysgeld is R 10 000.00.
KRITERIA
Die Vroue Boer van die Jaar kompetisie gaan uit drie kategorieë bestaan, naamlik:
· Top uitvoerder (meer as 50% van die produk word uitgevoer)
· Top produsent vir die nasionale mark
· Top produsent vir huishoudelike gebruik
Die kriteria betaan uit 9 punte. Onder andere, kwaliteit, netheid en aantreklikheid van die werksplek, grootte van die boerdery, leierseienskappe, finansiële bestuur, werkskepping en in hoe ‘n mate word gemeenskapsbetrokkenheid en natuurbewaring deur die boerdery beïnvloed.
VEREISTES
Inskrywer moet ‘n lid van VLU Noord of TLU SA Noord wees. Die sluitingsdatum is 5 April 2007.
VLU NOORD PERSOONLIKHEID VAN DIE JAAR
Die is nie werklik ‘n kompetisie nie maar ‘n verdienste of toekenning vir elke VLU Noord lid. Die Uitvoerende Bestuur het besluit om uit die lede ‘n Persoonlikheid van die Jaar aan te wys. Hierdie lid word deur haar tak genomineer met ‘n motivering waarom sy die Persoonlikheid van VLU Noord moet wees.
RIGLYNE
Die volgende riglyne sal in ag geneem word: Vergaderings bygewoon, ledewerwing, neem van leiding, deelname aan take en gemeenskapsprojekte, lojaliteit teenoor VLU Noord, skakeling met ander lede en organisasies en mense verhoudinge.
TLU SA NOORD BORG DIE TOEKENNING
TLU SA Noord borg die Persoonlikheid van die Jaar toekenning met ‘n wisseltrofee en ‘n kontantprys.
Mnr. Joubert het gesê dit is inderdaad ‘n voorreg vir TLU SA Noord om betrokke te wees by die twee gesogde toekennings. Hy het gesê TLU SA Noord gaan die Kategorie C lede van TLU SA Noord sterk aanmoedig om in te skryf.
Mnr. Joubert en Mev Prinsloo het hulle tevredenheid uitgespreek met die noue samewerking wat tussen die twee organisasies bestaan. Hulle het die hoop uitgespreek dat die samewerking tot voordeel van landbou sal wees en dat samewerking tot op grondvlak sal deursuur.
.............................................
Mnr F Du Toit - Voorsitter: Kommunikasie