PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD
PIETERSBURG STREEKKANTOOR
DATUM: 19 FEBRUARIE 2007
..........................................................................................................................................
RIGTING GEWENDE VEILIGHEIDSKONFERENSIE
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het sy tevredenheid uitgespreek na afloop van die Nasionale Veiligheidskonferensie wat op Woensdag 14 Februarie 2007 in Pretoria plaasgevind het.
TOEKOMSBLIK OP VEILIGHEID – DR JAN DU PLESSIS
Mnr. Joubert het gesê dat Dr Jan Du Plessis in breë trekke presies gesê het wat TLU SA Noord reeds in die provinsiale aksieplanne verreken het. TLU SA Noord het reeds na die 2005 Nasionale Kongres besef dat die SAPD en die Nasionale Weermag nie langer geweld en misdaad kan beheer en grensbeheer kan toepas nie. Die aanbieding op 14 Februarie 2007 het bloot die inhoud verleen aan die proses wat reeds aan die gang is. Die vernietigende gevolge van HIV/VIGS begin nou eers waarneembaar word met die steeds stygende sterftesyfer van veral die ekonomies aktiewe deel van die bevolking. Die moordende kompetisie agv globalisering moet bestry word met opbou van kundigheid. Suid Afrika se landbouers sal nie op die regering kan staatmaak om kundigheid te skep of te behou nie maar sal self planne op die tafel moet sit om dit te doen.
DIE KOSTE VAN MISDAAD – MNR HENRI BOSHOFF
Mnr. Boshoff het die benarde situasie van die Brooklyn polisiegebied beskryf. Mnr. Joubert het gesê hy twyfel of deelname in die GPF enigsins ’n verskil sal maak. Jy kan nie jou eie veiligheid delegeer nie. Mense moet primêr vir hul eie veiligheid verantwoordelikheid neem en dan kan samewerking met die GPF oorweeg word bloot vir die bou van goeie verhoudinge en nie omdat die GPF enigsins ‘n verskil kan maak nie.
PRAKTIESE VEILIGHEID – MNR GIDEON MEIRING
Mnr. Gideon Meiring, nasionale voorsitter van TLU SA Veiligheidskomitee het die opleiding wat alreeds beskikbaar is, uiteengesit. Hy het gesê dat selfs mense in die Vrystaat alreeds die opleiding ondergaan het. Lede van TLU SA, maar ook enige ander belangstellende is opgeroep om die opleiding by te woon.
TLU SA NOORD OP DIE VOORPUNT
Mnr. Joubert het gesê dat TLU SA, en ook die Noordstreek, op die voorpunt is om die massiewe veiligheids krisis in die land aan te pak. TLU SA Noord is ook gerat om lede, en die breë gemeenskap, by te staan om die vakuum wat deur die SAPD en Weermag gelaat word, te vul. TLU SA Noord se standpunt is duidelik: Jy kan nie jou eie veiligheid delegeer nie. Alhoewel daar met goedgesinde SAPD stasies saamgewerk word, word bevel en beheer altyd behou. Dit sal nie weer gebeur soos met die kommando’s dat ‘n politikus kan besluit wanneer en hoe opgetree kan word nie.
UITNODIGING
Mnr. Joubert het lede van die gemeenskap aangemoedig om met die Streekkantoor te skakel vir meer inligting. Hy het gesê dat TLU SA Noord een van die min organisasies in die land is wat praktiese oplossings vir die huidige veiligheidsprobleme het.
.............................................
Mnr F Du Toit - Voorsitter: Kommunikasie