PERSVERKLARING

TLU - SA NOORD

PIETERSBURG STREEKKANTOOR

TEL: 015 – 297 3749 / FAKS: 015 – 297 2197 / E-POS: ntlu1@ctec.co.za

DATUM: 1 DESEMBER 2006

..........................................................................................................................................

ONREGMATIGE ARRESTASIE – ALWEER DENDRON SAPD?

 

Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het met woede gereageer op die onreëlmatige optrede van lede van die SAPD wat, alweer, op Dendron plaasgevind het.

 

ONREGMATIGE ARRESTASIES VAN BOERE

Mnr Joubert het gesę, soos in die Pretorius geval op Thabazimbi, word dit meer en meer duidelik dat sekere lede van die SAPD doelbewus hul magte misbruik om boere onregmatig te na te kom. Die blote feit dat ’n vroulike lid van die SAPD haarself aanmatig om in arbeidsverhoudinge, wat duidelik deur arbiedswetgewing beheer word, in te meng, weerspieël die aanmatigende en skandelike onkunde van sekere SAPD lede.

 

KORT NA DIE HAATSPRAAK GEVAL OP DENDRON

Dit is verbasend en betekenisvol dat die ongelukkige voorval so kort op die hakke van die berugte haatspraak voorval op Dendron volg.

 

WORD ANDER MISDAAD SO VERBERG?

Mnr Joubert het gesę die ‘tydige’ beweerde ontsnapping van kriminele uit dieselfde SAPD stasie moet as verdag beskou word. Is die ‘laat’ arrestasie (dae na die vermeende skietery wat tot op datum nog nie bewys is nie) nie bloot ’n simptoom van die binne ondersteuning wat aan die ontsnaptes verleen is nie?

 

LEDE VAN DIE BOEREGEMEENSKAP GEVRA OM KALM TE BLY

Mnr Joubert het lede van die boeregemeenskap gevra om vir eers, kalm te bly. Hy het gesę hy verstaan hul frustrasie en woede maar kalmte is nou die beste ding om te doen.

 

WIE HET DIE OPDRAG GEGEE?

Mnr Joubert het gevra wie die opdrag vir die onregmatige arrestasie gegee? Sou dit moontlik kon wees dat die opdrag van kommissaris vlak gegee was ongeag of die feite wat bekend is aan almal, wel tot arrestasie geregverdig het?

 

ANARGIE

Mnr Joubert het gesę anargie is wetteloosheid. Dit verwys na ’n staat van wetteloosheid en wanorde wanneer die regering nie meer die gesag wat deur die Staat (en uiteindelik die Grondwet) aan die regering gedelegeer word, kan uitvoer nie. Dit verwys na ’n toestand waar die mense wat die gesag van die staat ontvang, daardie gesag misbruik vir eie gewin of omdat hulle opdrag ontvang om dit te doen.

 

TLU SA Noord sal as Grondwetlik gehoorsame burgers, steeds anargie ontbloot en sover moontlik binne die bepalings van die grondwet bestry. Die SAPD moet egter nou werklik die boodskap duidelik en ondubbelsinnig kry: Dat lede van TLU SA Noord nie langer sulke onregmatige optrede sal duld nie. Dat die SAPD moet weet dat TLU SA Noord graag met die SAPD wil saamwerk, maar die tipe optrede sal met harder optrede en met alle mag beveg word.

 

.............................................

Mnr F Du Toit

Voorsitter: Kommunikasie