Mineraalwet voor toets
18/02/2007
Dewald van Rensburg
’n Buitelandse mynmaatskappy vat die Suid-Afrikaanse regering hof toe oor sy mineraalwetgewing wat moontlik internasionale ooreenkomste oortree.
’n Groep Italiaanse beleggers in Finstone, die Luxemburg-gebaseerde houermaatskappy van Suid-Afrika se voorste granietvervaardigers, het ’n saak by die Internasionale Sentrum vir Beleggingsgeskil-beslegting (ICSID), ’n afdeling van die Wêreldbank, aanhangig gemaak.
Hulle meen die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne, wat in Mei 2004 gepromulgeer is, kom neer op onteiening en skend boonop Suid-Afrika se bilaterale beleggingsooreenkomste met Italië en Luxemburg deur diskriminasie teen nie-voorheen-benadeeldes.
Dié wet het alle mineraalbronne staatsbesit gemaak en mynmaatskappye genoop om dié bronne by die staat te “huur”. Die “nuwe” mineraalregte word egter op streng voorwaardes – waaronder 26% swart eienaarskap en die formulering van maatskaplike- en omgewingsplanne teen 2009 – toegeken.
As deel van die nuwe mineraalbedeling moet mynmaatskappy ook vanaf 2009 ’n tantieme op hul omset aan die regering betaal.
Twee haakplekke kan egter die regering – en ekonomie – swaar laat boet.
Enersyds sukkel die departement van minerale en energie om etlike duisende aansoeke om nuwe mineraalregte tydig af te handel en andersyds mag die wetgewing volgens sommige ramings die regering aan onteienings-eise van tot R100 miljard blootstel. En dié gevaar het nou ter sake geraak.
In Oktober 2004 het derduisende mineraalregtehouers kennis gegee dat hulle dagvaarding oorweeg – meestal as ’n voorsorgmaatreël indien nuwe mineraalregte nie toegeken word nie.
Mei vanjaar is egter die afsnydatum vir sulke regstappe, wat binne drie jaar ná dié wetgewing se implementering van stapel gestuur moet word. Die tesourie het verlede jaar ’n verslag opgestel waarin die minimum-waarde van onteiening-eise op sowat R48 miljard geskat word.
Die Italiaanse beleggers, wat nou die staat aanpak, voer aan dat die mineraalwet se “drukkende” vereistes onredelik is. Die steenmark waarin hul besighede handel dryf, vaar nie so goed soos ander kommoditeitsmarkte nie en hulle sukkel glo om bemagtigingsvennote te vind.
Die mineraalwet bots ook volgens die klaers met ’n beleggingsooreenkoms wat Suid-Afrika in 1997 met Italië gesluit het. Die ooreenkoms verseker die billike behandeling van Italiaanse beleggings en belowe ook dat dié beleggings net so gunstig soos plaaslike beleggings hanteer sal word – ’n voorneme wat volgens die klaers strydig is met SEB. Ingevolge die ICSID se prosedure moet ’n tribunaal van drie arbiters deur die eisers en die regering saamgestel word om die geskil voor 8 April te probeer oplos.
Die enigste ander mynmaatskappy wat tot dusver regstappe teen die staat begin het, is die Kanadese Southern Era Diamonds wat in 2005 prospekteerregte in ’n hofskikking met die departement van minerale en energie verkry het.
Talle mynreuse soos AngloGold Ashanti, Gold Fields, Lonmin en Aquarius se mynregte is reeds vernuwe.