Hofsaak help stuit dalk plaasmoorde
08/02/2007 03:05:43 PM - (SA)
DIE hofsaak wat Vrystaat Landbou oor die Lesotho-grenskrisis teen die regering beplan, kan die regsbeginsel vestig wat uiteindelik gebruik sal word om plaasmoorde te bestry.
Só het mnr. Louw Steytler, president van Vrystaat Landbou, vandeesweek op Elsenburg op Graan SA se streekkonferensie vir die Swartland en die Suid-Kaap gesê. Dit was pas nadat verneem is dat ’n plaasbestuurder by Worcester, mnr. Desmond Sterley van Ambiance, vermoor is.
“As ons dit nie doen nie, wie sal dit doen?”
Vrystaat Landbou wil hê die hof moet die regering verplig om boere langs dié grens te beskerm. Dié organisasie het die dienste van adv. George Bizos, SC, ’n bekende menseregte-aktivis, bekom om namens hom in die hofsaak op te tree, berig Jeanne-Marié Versluis.
Steytler het al voorheen gesê Vrystaat Landbou wil hê dat die regering verplig word om sy werk te doen en Suid-Afrikaanse boere langs die Lesotho-grens te beskerm. Volgens hom kan die saak R5 miljoen tot R10 miljoen kos, maar is Vrystaat Landbou bereid om soveel te betaal.
Die boere meen hul veiligheid word nie beskerm nie en dat hulle weens misdaad hul reg om te boer ontneem word.
Steytler het na onlangse uitsprake deur politici verwys en gesê boere word van openbare en politieke verhoë van allerhande dinge beskuldig. “Diegene wat dink hierdie los praatjies sal nie op geweld uitloop nie, sal weer moet dink.”
Hy wou weet hoe “sulke valse stellings (deur politici) kwytgeraak kan word” en watter uitwerking dit in die buiteland kan hê.