DKD-drie gevang ná aanval

Mar 05 2007

http://www.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,8523,5-83_2078390,00.html

BULTFONTEIN. – Drie beamptes van die departement van korrektiewe dienste in Benoni is Saterdag hier in hegtenis geneem nadat mev. Bertha Greyling (71) op ’n plaas buite die dorp ernstig aangerand is.

 

Supt. Susan Moseki, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die goeie samewerking tussen die polisie en boere in die omgewing het verseker dat die verdagtes vinnig vasgetrek is.

 

Ná die aanval het mev. Linda du Plessis van ’n plaas in die omgewing die wiele vinnig aan die rol gesit en die inligting ge-SMS.

 

Supt. D.D. Ramoola, stasiekommissaris van Bultfontein, sê vroeër die week het hulle in samewerking met die boere ’n oefening gehad oor wat om te doen ingeval van ’n plaasaanval. Binne oomblike was daar Saterdag meer as 70 voertuie beskikbaar wat met die soektog na die verdagtes gehelp het. Die drie verdagtes is tussen 17:00 en 18:00 in die omgewing in hegtenis geneem.

 

Komm. Amon Mashigo, die Vrystaatse polisiehoof, en Ramoola het die boere van Bultfontein bedank vir hul samewerking en vinnige reaksie ná die aanval.

 

Mev. Hendriena Greyling sê haar skoonma was Saterdagoggend alleen by die huis. Sy sê haar skoonma is oor haar hele liggaam erg gekneus. Haar aanvallers het ook probeer om haar met ’n hemp te verwurg. Sy het ook ’n hele paar houe in die gesig gekry.

 

“Sy is in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel en sterk nou by haar kinders in Bloemfontein aan.”