Boere
leef in vrees ná diefstal van wapens
Feb 07 2007
Hoedspruit. – Boere in dié gebied in Limpopo vrees plaasaanvalle nadat outomatiese masjiengewere en ammunisie by ’n veiligheidsmaatskappy in dié dorp gesteel is.
Mnr. Bill van Reenen het gesê daar was al voorheen ’n aanval op sy plaas en hy lewe in vrees.
“Hoe moet ons gerus wees as ons weet daar is mense daar buite met sulke gevaarlike wapens?”
Supt. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder van die Mopanistreek, het gesê nege BXP-outomatiese masjiengewere en 153 patrone is uit ’n kluis by die Pro Track-maatskappy in dié dorp gesteel.
Veiligheidswagte van Urban Africa stoor hul wapens nauurs, asook oor naweke in die kluis by die Pro Track-maatskappy.
Beeld het verneem twee werknemers van Pro Track wat in die beheerkamer gewerk het, het Saterdagoggend omstreeks 01:00 glo spoorloos verdwyn. Nuwe wagte is in hul plek geplaas.
Onraad is eers vermoed toe veiligheidswagte eergisteroggend hul wapens uit die kluis wou gaan haal en gesien het dit is nie daar nie.
Ngoepe het gesê dit lyk nie of daar by die kluis ingebreek is nie. Dit wil voorkom of die diewe moontlik sleutels vir die kluis gehad het.
Die polisie is tans op soek na ’n 20-jarige en ’n 29-jarige man wat voorheen by Pro Track gewerk het. Hulle kan moontlik inligting aan die polisie verskaf om die wapens terug te kry.
Van Reenen het gesê veiligheid op plase in dié gebied is nie na wense nie. Daar is glo die afgelope tyd verskeie viertrekvoertuie op plase in dié gebied gesteel. “Van die boere se honde is ook vergiftig voordat daar diefstal op dié plase gepleeg is,” het hy gesê.
Ngoepe dra nie kennis daarvan nie. Teen druktyd was die wapens nog soek.