AGRI SA REAGEER OP DIE KONTROVERSIE RAKENDE UITSPRAKE VAN MINISTER LULU XINGWANA
Agri SA betreur die skadelike en voortslepende kontroversie wat ontstaan het oor Minister Lulu Xingwana se ongestaafde bewerings by verskeie geleenthede rakende die algemene voorkoms van onmenslike en selfs kriminele optrede van kommersiële boere teenoor plaaswerkers en landelike bewoners.
Agri SA en sy affiliasies bevestig weereens dat 'n hoëvlak van respek te opsigte van menseregtekwessies 'n voorvereiste vir stabiliteit en vooruitgang is. Die organisasie en sy lede het ook reeds verskeie programme geloods om goeie arbeidspraktyke op plaasvlak te bevorder.
Daarom is dit Agri SA se standpunt dat kommersiële boere dit nie verdien om met veralgemenings oor onmenslike en selfs kriminele optrede ge-etikiteer te word nie. Hierdie bewerings is ongetwyfeld skadelik vir landelike veiligheid en stabiliteit asook vir landbou- en markontwikkeling in die algemeen. Agri SA het teen dié agtergrond versoek dat die feitelike basis van hierdie bewerings nagegaan word en 'n verstandhouding met die Regering bereik word oor die hantering van kwessies van hierdie aard.
Agri SA wag reaksie in dié verband van die Minister Lulu Xingwana self, die Menseregtekommissie asook van President Mbeki af. Dié organisasie het dit ook nodig gevind om die Polisie te versoek om die bewerings na te gaan en die feite daarvan te verifieer.
Met terugvoering uit baie oorde kan Agri SA staaf dat die boeregemeenskap as gevolg van dié herhaalde ongesubstansieerde bewerings en beskuldigings deur die Minister beledig voel oor hulle beskouing en hantering van menseregtekwessies op plase en ook as kwaadwillige politiekery wat verskeie kontra-produktiewe gevolge, selfs ten opsigte van uitvoergeleenthede, inhou. Dit is Agri SA se standpunt dat so 'n situasie geensins in belang van breëre verhoudings is nie en dat dit dringend op die hoogste vlak reggestel moet word.
Agri SA vind dit jammer dat Minister Xingwana gister 'n afspraak met Agri SA afgestel het waartydens begin kon word om hierdie kwessie te besleg. Dit word verder betreur dat NAFU SA dit moontlik vind om sy ongekwalifiseerde steun aan Minister Xingwana oor hierdie aangeleentheid te gee, ongeag die skade wat onlangse gebeure aan die beeld van die landbou in die algemeen asook van individuele boere as selfstandige en verantwoordelike ondernemers teweeggebring het. Dit is 'n aangeleentheid wat Agri SA op bestuursvlak verder met NAFU SA sal opneem.
Uitgereik deur Agri SA: Korporatiewe
Skakeling
Navrae: Lourie Bosman, President
Agri SA 082 388 3000